• Home
  • About
  • Afrikaanse gedigte poems
  • Chess and the benefits
  • Links
  • Poems – gedigte – own
  • SA History
  • South African Recipes

Chessalee

Everything/Anything and…Chess…"Despite the documented evidence by chess historian HJR Murray, I've always thought that chess was invented by a goddess"–George Koltanowski: from the foreword to:"Women in chess, players of the Modern Age"

Feeds:
Posts
Comments
« Wales
Volkspele..Folk Dance »

Lekker Afrikaanse kinderstories

25/06/2007 by Nikita

afrikaans-2

Meer Afrikaanse stories op hierdie volgende link asook boeke wat aanbeveel kan word. Die link sal in ‘n nuwe venster oopmaak.
https://chessaleeinlondon.wordpress.com/2008/09/26/storietyd-storytime/

Hierdie stories het ek in ‘n “Zip”-lêer eendag iewers van ‘n webbladsy afgelaai, ek kan nie eers meer onthou waar nie. In elk geval, ek blog dit omdat dit kosbare stories is van een van ons fantastiese skrywers, Pieter W Grobbelaar. Geniet dit!

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

ANTJIE SOMERS

As paaiboelie het Antjie Somers geen gelyke in Afrikaans nie. “Oppas vir Antjie Somers. Hy sal jou in sy groot sak stop!” is ‘n dreigement wat baie geslagte kinders soet gehou het. “Hy”, ja, want Antjie Somers was natuurlik eintlik ‘n man. Hier volg een van die talle maniere waarop die verhaal vertel word.

Andries Somers was ‘n voorman onder die Strand se vissers. Wie kon soos hy ‘n treknet vasvat? Wie ‘n spaan met hom laat sak? Nee, niemand nie. En dapper! Waar iemand in gevaar gekom het, was Andries Somers eerste by. Nes ’n see-eend kon hy swem, en talle drenkelinge het hy land toe gebring as die ander al lankal moedverlore was.

Maar afguns is daar altyd, en skoorsoek is g’n kuns nie. Eendag op die strand pak ‘n klomp vissers hom. Andries laat nie met hom speel nie. Hulle kantel voor sy vuiste. Maar een bly te stil lê waar sy kop ‘n klip gevang het. Andries moet vlug, anders hang die mense hom dalk op. Hy kry ‘n sisrok van sy suster. Hy bind ‘n kopdoek om. Hy haak ‘n mandjie oor sy arm. Toe kies hy koers, diep na die binneland.

Op ‘n plaas agter die berge gaan verhuur hy hom. En hy werk weer soos net hy kan. Van die voordag staan hy bak tot dit laat word in die aand. Wingerd spit of pars of mis ry maak nie saak wat hulle doen nie. Andries Somers word die voorman op die plaas.

Maar die afguns het ore en ‘n storie baie tonge, en voor lank skinder die mense kliphard onder mekaar.

“Vertel ons,Andries, van die sisrok wat jy in jou huis wegbêre,” por die ene.

“En die kopdoek, Andries Somers ? Of is jou naam dalk eintlik Antjie?” pla ‘n ander.

“Antjie Somers! Antjie Somers!” koggel hulle.

Andries Somers laat sy kop sak, en hy maak of hy nie hoor nie, want naderhand kom daar weer nuwe rusie. Maar die derde dag toe kan hy hul geterg nie meer verduur nie. Daardie aand pak hy sy bondel, en hy maak dat hy daar wegkom.

Nooit weer keer Andries terug nie. Nêrens slaan sy spoor weer uit nie. Hy het soos ‘n gees verdwyn.

Maar al meer vertel die kinders wat saans teen die berg gaan hout soek van ‘n ou vrou wat hulle verjaag.

“Sy het ‘n rooi kopdoek,” sê een kind.

“Sy het ‘n sisrok met groot strepe.”

“Sy het ‘n lang mes.”

“En ‘n mandjie.”

“En ‘n streepsak oor haar skouer.”

“Sy wil ons vang en in haar sak prop!” kerm hulle.

En die grootmense skud kop. “Dit is daardie Antjie Somers,” sê hulle onder mekaar.

Andries Somers raak vergete: dapper Andries, flukse Andries, Andries wat altyd kon voorvat. Maar een storie word al luider en geslagte lank herhaal: “Antjie Somers! Antjie Somers, Antjie Somers gaan jou vang!”

————-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

DIE HEKS VAN HEXRIVIER

Hierdie mooi, eg Afrikaanse sprokie is ‘n goeie voorbeeld van ‘n verhaal wat waarskynlik rondom die naam van ‘n bepaalde plek ontstaan het.

Elise was ‘n mooi meisie. In die hele vallei het geeneen soos sy gewoon nie. Maar ongelukkig het sy aan hoogmoed gely. As die jong mans by haar kom kuier, het sy net haar neus opgetrek en gesê: “Eendag sal die mooiste en beste en fluksste jong man my kry.”

Op ‘n dag kom Flip met sy sweetvos by die plaas aangery. Dit is goed om hom te hoor lag. Hy is mooi om na te kyk. Vir werk is hy nie bang nie. Toe weet Elise: dis die jong man vir wie sy gewag het. Maar sy is nog hoogmoedig. “Gaan pluk vir my die bloedrooi disa wat op die hoogste krans groei,” sê sy. “Dan sal ek weet dat jy my liefde werd is.”

“Ek gaan,” sê Filip.

Flip klim en klim, en soos hy klim, sing hy.

Flip klim en klim met ‘n lag.

Flip klim tot hy tussen die kranse kom. Daar ver op ‘n rotspunt wat oor die diepste afgrond hang, blom die rooi disa.

“Nou gaan ek jou pluk,” sê Flip. “My bruid wag vir my.”

Maar toe hy vooroor buk, krummel die klippe onder sy voet. Hy gryp, maar dis net die disa wat hy beetkry. Hy stort met die blom in sy hand na benede.

Toe Elise van Flip se dood hoor, breek haar hart. “Filip! Filip!” snik sy, maar dit is te laat. Filip! Filip!” huil sy, maar dit help nie meer nie. “Filip! Filip!” roep sy, en sy klim die berg in na die plek toe waar die bloedrooi disa gestaan het.

Toe sy die geknakte blomsteel sien en die spore van Filip se val, kan sy nie meer nie. Filip! Filip!” sug sy en sak inmekaar. En die afgrond gryp haar soos hy Flip gegryp het, en sy val haar te pletter.

En nou nog, vertel die mense, kan jy haar daar sien dwaal. Dis net ‘n skim wat van haar oor is. Haar geroep is ‘n suggie wind. Maar sy kan nie rus vind nie. Elke maanlignag kom sy weer om na haar Filip te soek, al sal sy hom nooit kry nie.

“Dis haar verdiende loon, sê die mense. “Haar hoogmoed het ‘n jong man se lewe gekos. Sy is ‘n heks!”

So het die mooiste jong meisie van die vallei die Heks van Hexrivier geword.

—–

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

WOLF LEER VLIEG

Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.

“Ai, Aasvoël,” kla Wolf, “kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?”

“Dis maklik, antwoord Aasvoël. “Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien.”

“Leer my dan ook vlieg,” soebat Wolf.

“Goed,” sê Aasvoël. “Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen.”

Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf meet net vasklou.

“Sien jy, Wolf?” roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. “Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke.”

Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.

“Eina!” tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.

“Laat dit vir jou ‘n les wees!” roep Aasvoël van bo af. “‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid.”

———-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

VAT HOM, JAKKALS!

Deur hul aanraking met mekaar, het die sprokies van die verskillende rasse so vermeng dat ‘n mens soms nie weet waar die Boesman storie ophou en die Hottentot invloed begin nie om van die invloed van wit en swart mense nie eens te praat nie. Maar die belangrikste bly die verhaal self.

i. Ryperd

Jakkals is kwaad vir Hasie, want hy het stories by vrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.

“Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”

En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.

Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”

“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.

Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”

Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag lag in die bossies.

“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê vrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”

ii. Die Byekerk

Hasie hardloop na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. “Ai!” sê Hasie:

“Lekker is lekker,

en goed is goed –

en die beste lekker

is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande laat proe.

Maar Hasie het klaar geskrik en ver gedink. “Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie.

iii. Vat Hom, Jakkals!

Maar Hasie is glad te gerus. Sing sing in die paadjie. Wirts warts om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Woep! daar sit hy. Jakkals het voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie.

Hasie word stil. Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk die ongeskik! Hierdie ander jakkals druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer beskou.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems! al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,

en kwaai se voet:

ou Jakkals soek

sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

———

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

SOP MET ‘N SKOP

Die Boesmans het die dierewêreld fyn deurgekyk. Daarom is Leeu vir hulle die sterke, Wolf soos Hiëna dikwels genoem word ‘n wreedaard, en Jakkals ‘n lafhartige bedelaar.

Wolf het ‘n ver pad geloop om by sy broer te gaan kuier. Nou is hy honger en dors. In die veld kry hy Leeu wat aan ‘n sebra lê en eet. ‘n Entjie weg sit Jakkals vir ‘n bietjie oorskiet en wag.

“Naand, Leeu,” sê Wolf vriendelik.

“Mmm,” sê Leeu, en hy kraak ‘n murgbeen oop.

Wolf gaan op sy hurke sit. “Hoe lyk dit, nooi jy my dan nie om ‘n stukkie saam te eet nie?”

“Ja, ja!” sê Jakkals gretig.

“Bly stil!” sê Wolf, en Jakkals gee ‘n paar tree pad.

“Nee,” sê Leeu, en hy skeur aan die boud se sagte vleis.

“Net so ‘n bietjie soppies om op te lek,” vra Wolf. “Ek is baie dors.”

“Ek lek my eie sop,” sê Leeu.

“Net ‘n ou murgbeentjie om af te eet,” soebat Wolf.

“Dè, vat dan!” sê Leeu, en hy gooi vir Wolf die been wat hy nou net self droog gesuig het.

“En wat van my, Leeu ? ” vra Jakkals met ‘n huilstem.

“Trap!” sê Leeu, en hy mik met sy voorvoet.

Jakkals verskuif nog ‘n entjie verder weg.

Wolf vat die been, en hy kou daaraan asof hy tog te lekker kou, en hy suig daaraan asof daar baie te suig is. Toe staan hy op. “Baie dankie, Leeu,” sê hy. “Ek sal sulke vriendelikheid nie vergeet nie. Kom eet gerus môreaand ‘n bietjie sop by my.

“Dankie, ja,” sê Leeu, en hy lek al klaar sy lippe af, want hy weet Wolf se maats is dood as dit by sop kook kom.

“Dankie, ja!” sê Jakkals asof Wolf hom ook genooi het, en hy gaan lek die droë been af wat Wolf laat agterbly het.

Agter die bultjie kom Wolf op ‘n volstruis af. Dis net vere en voete, en toe begin Wolf weglê. Die stuk wat oorbly, sleep hy saam huis toe. “Eet julle maar die vleis, ” sê hy vir sy vrou en kinders. “Laat bly net die bene vir my.”

Die volgende dag sit Wolf twee potte op die vuur vir die volstruissop. Die een pot haal hy betyds af om koud te word, maar die ander pot hou hy kookwarm.

Dis ook nie te lank nie, of hier kom Leeu aan met Jakkals op sy spoor. “Hoe lyk dit met daardie sop waarvan jy gepraat het, Wolf?” vra Leeu.

“Ja, hoe lyk dit met die sop?” vra Jakkals.

“Kom sit maar hier in die ry,” sê Wolf, en hy beduie waar sy vrou en kinders al wag.

Vrou Wolf hou haar mond oop, en Wolf gooi in, maar dis van die koue pot s’n. So gaan hy van kind tot kind, en hulle drink tog te lekker. Maar toe hy by Leeu en Jakkals kom, skep hy twee bekers van die vuurwarm sop uit. “Maak wyd oop!” sê hy, en hulle maak so.

Toe gooi hy.

Leeu wil nog sluk, toe spu hy al dat die sop met so ‘n wye boog staan. “Sjoe, vriend Wolf,” sê hy kortasem, “maar jou sop is vandag darem kwaai.”

“Dis van ‘n volstruis se bene,” sê Wolf. “Dié voël kan mos so kwaai skop. Wil jy nog ‘n bietjie hê?”

“Nee, dankie,” sê Leeu, “ek dink ek loop maar weer.”

En Jakkals? Hy kan nie insluk nie, want dis te warm. En hy kan nie uitspu nie, want hy is te bang vir Wolf. Daarom sit hy so met die trane wat oor sy wange loop. Maar toe Leeu wegdraf, draf hy saam, en hy maak sy mond agter ‘n bossie leeg. En nou nog as Jakkals so in die maanskyn wag dat Leeu klaar moet eet, en hy dink aan daardie sop, dan begin hy sommer van nuuts af huil.

Luister maar mooi.

“Kwaai sop!” tjank Jakkals. “Volstruissop! Volstruissop met ‘n skop!”

———-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

JAKKALS VERTROU SY EIE VREDE NIE

Op ‘n oggend snuffel Jakkals tussen ‘n klompie bome rond, toe hy Hoenderhaan op ‘n hoë tak gewaar.

“Môre, my liewe Haan,” groet hy vriendelik.

“Môre, Jakkals,” groet Haan. “En waar stap jy dié tyd van die oggend nog rond?”

“Ek soek ‘n bietjie ordentlike geselskap,” sê Jakkals vinnig. “Maar dis nie lekker om so kop in die lug te staan en praat nie. Kom sit liewers hier by my.”

“O nee,” antwoord Hoenderhaan. “Ek ken jou streke. As ek naby jou kom, eet jy my op.”

“Nog nooit nie!” roep Jakkals uit. “Het jy dan nie gehoor nie? Daar is vrede in Afrika onder al die nasies.”

“Koe-ke-le-koe!” lag Haan.

“Hoekom lag jy?” vra Jakkals.

“Nee, ek lag sommer vir al jou stories,” antwoord Haan. “En dan lag ek vir my eie storie ook.”

“Wat se storie is dit?” vra Jakkals.

“Gisteraand het Wildehond my bekruip,” vertel Haan. Toe moes ek die bome in vlug. Nou is Boer met sy honde op pad om my te soek. Ek kan hulle al sien aankom.”

“Nou ja, dan groet ek maar eers,” sê Jakkals skielik haastig.

“Hoekom wil jy al loop Jakkals?” vra Haan. “Ons gesels nou eers lekker. Jy is tog seker nie bang vir die honde nie. Daar is mos vrede in Afrika.”

“O ja,”‘ antwoord Jakkals, “maar die vraag is of die onnosele honde daarvan weet.” En hy draf vinnig weg.

AddThis Social Bookmark Button

Share this:

  • Pinterest
  • Twitter
  • Facebook
  • Reddit
  • Email

Like this:

Like Loading...

Related

Posted in Afrikaans, Afrikaans stories, Afrikaanse diere verhale, Afrikaanse fabels, Afrikaanse stories, Afrikaanse tradisionele verhale, Afrikaanse verhale, Afrikaanse volksverhale, Die Mooiste Afrikaanse Sprokies in Afrikaans, Jakkals en Wolf stories, Pieter W Grobbelaar, Sprokies | Tagged Afrikaans, Afrikaans stories, Afrikaanse Kinder Stories, Afrikaanse kinderverhale, Afrikaanse Sprokies, Antjie Somers, Die Heks van Hexrivier, Jakkals, Jakkals en Wolf stories, Jakkals vertrou sy eie vrede nie, Kinder verhale, kinderstories, kort afrikaanse stories, Lekker Afrikaanse Kinder Stories, Mooiste Afrikaanse Sprokies, Pieter W Grobbelaar, short Afrikaans stories, Sop met 'n skop, Sprokies, stories, stories met diere karakters, Suid-Afrikaanse skrywers, Vat hom, Wolf leer vlieg | 24 Comments

24 Responses

  1. on 11/09/2009 at 11:44 Elly

    DIE HEKS VAN HEXRIVIER – Ai ai, al die lekker herinneringe! Ons ken vir Pieter goed. Jakes, my man was saam met hom by die ADK (Akademie vir Dramakuns) in Kaapstad betrokke.

    Ongeveer 1983 het hulle juis hierdie sprokie verfilm. Jakes was Phillip en Susan (kan nie haar van onthou nie) het Elize se rol gedoen. Ons gesin verwys nog gereeld hierna. Ons kinders ken die sprokie amper woord vir woord. As kleuters was hulle trots op Pappa se “film”. As tieners was hulle skaam oor Pa se deelname. Dit was ongelooflik melodramaties!!

    Juis verlede maand was ons met ons nou reeds getroude kinders vir ‘n naweek in Mkuze falls Reservaat om Pa se verjaardag te vier. Op ‘n stadium was daar ‘n groot krans net links van ons en iemand het ‘n opmerking gemaak oor die plantegroei daarop. Die volgende oomblik hoor ons net die benoude stemmetjie: ” Phillip! Phillip!, Elize my lief, waar is jy? Ek gaan vir jou die mooiste blom pluk ….” Ons dogter haal toe sommer ‘n hele stuk uit die sprokie aan en saam lag ons almal weer lekker… oor die verlepte Disa!


    • on 12/09/2009 at 14:29 Nikita

      Hi Elly, Welkom hier! Dit klink nou regtig interessant. Julle is bevoorreg om hom te ken! Ek glo julle het heelwat grappe/dinge wat julle deel en kan net dink aan al die pret wat julle het. Jy het seker ook ‘n redelike versameling boeke?


  2. on 13/09/2009 at 13:18 Elly

    Het gehad… toe ons Ierland toe gekom het het ons maar meeste daarvan weggegee. Net ‘n paar besondere boeke kruip nog iewers in ‘n stowwerige stoor weg – sommige daarvan sal ons MOET gaan opdiep as daar kleinkinders kom.


    • on 13/09/2009 at 18:32 Nikita

      hi Elly
      Ja, met so ‘n trekkery verloor ‘n mens baie waardevolle goed soos boeke, ek het myself ook baie weggegee en het natuurlik spyt daaroor!


  3. on 18/10/2009 at 06:59 Margriet Strydom

    Sien http://www.AnnaEmm.co.za vir ‘n groot verskeidenheid kinderstories op CD.


    • on 18/10/2009 at 11:37 Nikita

      hi Magriet, welkom hier en baie dankie vir die link ook!


  4. on 05/11/2009 at 07:51 Carla Bekker

    hi daar, dit so is lekker om die stories te hoor wat my ouma altyd vertel het. ek is op soek na die storie van Brolox en Bittergal, het agter gekom die stellenbosch studente is beroof van die storie. weet enige iemand waar ek dit dalk kan vind op die net?


    • on 06/11/2009 at 00:36 Nikita

      Hi Carla! Welkom hier. Ja, die stories bly darem maar oulik, ne! Ongelukkig het ek nie die storie nie. Miskien kan jy ‘n biblioteek probeer of a skool se mediasentrum? Sterkte daarmee!


  5. on 06/11/2009 at 07:17 Carla Bekker

    dankie Nikita.
    ek was al by die bib gewees, maar die swart tannie daar het gese dat sy nie so op hoogte is van afrikaanse stories nie, en toe sy vir die afrikaanse meisie vra, wel, ek dink sy is te jonk. maar, ek gaan nie moed op gee nie, ek dink storie man het dit gehad…


    • on 06/11/2009 at 18:05 Nikita

      hi Carla, Ek sal ook bietjie google en kyk of ek ietsie kry. Dalk in google-books of so iets. Ek laat jou weet as ek iets kry. Jy is reg met Storieman! Ek het Storieman gebruik en ek kan onthou daar was iets daarin, alhoewel ek nie self daardie spesifieke kasset gebruik het nie.


  6. on 22/03/2011 at 19:58 Esme

    Ek het die boek van Brolloks en Bittergal by ‘n boekwinkel in Windhoek gekoop. My kinders is al te “groot” en wil nie meer die storie hoor nie.
    As jy die posgeld betaal en laat weet waarheen ek dit kan stuur, kan jy dit kry.
    Ek soek egter die storie agter die storie van die wolk, die son en die wind wat gestry het oor wie die sterkste was?
    Kan jy dalk help? Ek wil net die storie hoor, soek nie ‘n boek nie.


  7. on 24/03/2011 at 20:35 Nikita

    Hallo Esme! Dankie vir jou boodskap! Ek sal jou beslis kontak vir die boek!!


  8. on 09/02/2012 at 02:48 Rochelle

    Ek bied ‘n Afrikaanse Radio Program aan hier in Australie. Ek kom vanddag toe af op hierdie verhale wat vertel word in Afrikaans, ek kan daarna luister, maar hoe sal ek dit gebruik in my Radio Program. Gaan dit moontlik wees om af te laai op my i-tunes program>? Indien wel, sal ek ‘n kundige moet vra om my te help?
    Die Jakkals en Wolf stories het my aandag getrek.
    Dankie en ek hoor graag van jou. Skryf vir my na: rochelle.radio@yahoo.com.au
    Groete uit Bundaberg
    Queensland
    Australie
    Afrikaans Sonder Grense


  9. on 09/02/2012 at 02:50 Rochelle

    JAMMER, EK DINK DAAR WAS ‘N . IN DIE ADRES WAT VERKEERD WAS…
    DIS;= rochelle.radio@yahoo.com.au
    Dankie hoor
    Rochelle
    ASG
    Oz


  10. on 12/02/2012 at 20:44 Nikita

    Hi Rochelle
    Welkom hier op my blog.
    Die stories is nie audio nie, maar teks. Ek het gewonder of jy dalk die audio stories op my ander link gekry het. Jy behoort hulle afgelaai te kry – as dit audio is – en met Realplayer te speel. Sterkte en dankie vir jou boodskap!
    Die teks stories kan jy sommer self vertel/lees! 🙂


  11. on 17/04/2012 at 05:35 Willemien

    Hi Nikita!
    Baie dankie vir hierdie wonderlike blog!
    Ek was opsoek na inligting oor “Die heks van Hexrivier” en Google het jou blog vir my uitgegooi, wat ‘n aangename ontdekking!

    Om die waarheid te se, ek was besig om “Rossenrot” van die Duitse groep, Rammstein, te luister. Ek het die vertaling opgesoek en tot my verbasing op die volgende afgekom (http://herzeleid.com/en/lyrics/rosenrot/rosenrot):

    “A girl saw a little rose
    It bloomed there in bright heights
    She asked her sweetheart
    if he could fetch it for her

    She wants it and that’s fine
    So it was and so it will always be
    She wants it and that’s the custom
    Whatever she wants she gets

    Deep wells must be dug
    if you want clear water
    Rose-red, oh Rose-red
    Deep waters don’t run still

    The boy climbs the mountain in torment
    He doesn’t really care about the view
    Only the little rose is on his mind
    He brings it to his sweetheart

    She wants it and that’s fine
    So it was and so it will always be
    She wants it and that’s the custom
    Whatever she wants she gets

    Deep wells must be dug
    if you want clear water
    Rose-red, oh Rose-red
    Deep waters don’t run still

    At his boots, a stone breaks
    Doesn’t want to be on the cliff anymore
    And a scream lets everyone know
    Both are falling to the ground

    She wants it and that’s fine
    So it was and so it will always be
    She wants it and that’s the custom
    Whatever she wants she gets

    Deep wells must be dug
    if you want clear water
    Rose-red, oh Rose-red”

    Dit het my onmiddelik laat dink aan die verhaal “Die heks van Hexrivier” en ek het toe begin soek na die oorsprong van die verhaal.

    Sal noggal interessant wees om uit te vind!


  12. on 17/04/2012 at 06:41 Nikita

    wow, dit is mooi! Dankie vir jou besoek en jou mooi woorde! Ek hoop jy kry dit, jy het my nou ook nuuskierig. Het dit nie iets te doen met ‘n berg – wat lyk soos ‘n heks?


  13. on 08/06/2012 at 10:01 Salome

    Hi, Ek weet nie eintlik waar ek nou is nie, maar ek het ge-GOOGLE “soek iemand om my te help met skryf van musiekblyspel vir kinders”. Nou weet ek nie of ek hier iets gaan kry nie, maar die hoop beskaam mos nie. Dis eintlik ‘n verwerking van ‘n kinderboek en alles (ook die lirieke) is al geskryf, maar nou weet ek nie verder nie. Is daar dalk iemand wat kan help?


    • on 08/06/2012 at 11:04 Nikita

      Hi Salome
      Welkom op my blog! Daar’s niks verkeerd met vra nie. 🙂 Jy weet nooit wie kan help nie. Ongelukkig kan ek nie help met wat jy vra nie. Ek hoop dat iemand anders wat hier gaan kom lees [weet nie wanneer nie] dalk vir ons kan help! Ek wens ek kon jou help. Ons hou duim vas dat daar wel iemand hierlangs sal kom om jou te help. Sterkte en ek hoop jy kom reg!


  14. on 26/11/2012 at 18:23 mariska

    Dit was nou regtig baie mooi stories ek en my dogter het nou lekker gelag


    • on 26/11/2012 at 19:51 Nikita

      Hi Mariska!
      Welkom op my blog en ek is bly julle het die stories hier geniet. 🙂


  15. on 25/02/2013 at 08:24 Anne-Marie

    it is sooooo lekker om afrikaanse stories te kry, is daar nie erens ‘n site waar ons lekker afrikaanse stories en begripstoetse kan kry nie. Maar die soort waar taal konsepte ook getoets kan word.


    • on 25/02/2013 at 21:13 Nikita

      hi Anne-Marie, Dankie vir jou besoekie en boodskappie. Ek het iewers op my blog ‘n paar begripstoetse – wat ek met Gr4 en Gr5 gebruik het – daar mag dalk ‘n verlore Gr6 ook wees. Ek weet nie of jy dit dalk hier gekry het nie.
      https://chessaleeinlondon.wordpress.com/2008/09/26/storietyd-storytime/ Hier is die link. Sterkte met jou soektog.


  16. on 25/10/2017 at 15:29 Kort Afrikaanse Stories. – Get To Love Reading

    […] Vir meer interresante kort afrikaans stories : https://chessaleeinlondon.wordpress.com/2007/06/25/lekker-afrikaanse-kinderstories/ […]



Comments are closed.

  • Follow Chessalee on WordPress.com
  • Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

    Join 287 other subscribers
  • Spoken by great men:"Give me 20 divisions of American soldiers and I will breach Europe. Give me 15 consisting of Englishmen and I will advance to the borders of Berlin. Give me two divisions of those marvellous fighting Boers and I will remove Germany from the face of the earth." - Field Marshal Bernard L. Montgomery, Commander of the Allied Forces during WW2.

  • "The Americans fight for a free world, the English mostly for honour, glory and medals, the French and Canadians decide too late that they have to participate. The Italians are too scared to fight, the Russians have no choice. The Germans for their Fatherland. The Boers? Those sons of Bitches fight for the hell of it." American General, George 'Guts and Glory' Patton.

  • Latest Posts

    • Concerto for two and three movements
    • War-time Chess
    • Queen Elizabeth II
    • Vroue het deur die eeue skaak gespeel
    • War Time Chess
  • Top Posts & Pages

    • Heerlike Suid-Afrikaanse Resepte
    • Happy Valentine's Day!
    • French Knitting-Tolletjie Brei
    • South African recipes
    • From Russia with love
    • Die Berggans het 'n veer laat val
    • Wolf and Jackal Stories
    • The Dance of the rain
    • Lekker Afrikaanse kinderstories
    • Storietyd-Storytime
  • June 2007
    M T W T F S S
     123
    45678910
    11121314151617
    18192021222324
    252627282930  
        Jul »
  • Afrikaans Afrikaanse gedigte Afrikaans poems Afrikaans songs Anand Art books Carlsen Chess chess art chess games Chess Grandmasters chess movies chess news Chess South Africa chess tournaments classical music food gedigte History London Magnus Carlsen Melissa Greeff Mp3 music files music music audio files music files music videos musiek nature news poems Poetry poets Pretoria Radjabov recipes resepte skaak Skaak Suid-Afrika South Africa South African artists stories Suid-Afrika Topalov

  • Live chess ratings top 10 - men 2700chess.com for more details and full list
  • Live chess rating: Top 10 - women 2700chess.com/women for more details and full list

Blog at WordPress.com.

WPThemes.


  • Follow Following
    • Chessalee
    • Join 287 other followers
    • Already have a WordPress.com account? Log in now.
    • Chessalee
    • Customize
    • Follow Following
    • Sign up
    • Log in
    • Copy shortlink
    • Report this content
    • View post in Reader
    • Manage subscriptions
    • Collapse this bar
 

Loading Comments...
 

    %d bloggers like this: