Feeds:
Posts
Comments

Posts Tagged ‘kinderstories’

“Two Frogs” is a fantastic book. I want to share this book today and by doing this, do my “good deed” for today! I love books, even more, children’s books! I’m slowly busy building up a library! I used this book with great success during Philosophy lessons… Firstly, the pictures in this book…just look how stunning! Doesn’t it convey a lot, only by looking at it! That’s why children’s books fascinate me, you get outstanding illustrations and lifelong messages. This book is definitely one of those which you would buy and have different uses for, when teaching. I’m going to copy a few lines from the book…and the images support the text just brilliantly!

—Once there were two frogs sitting on a lily pad in the middle of a large pond. One of the frogs was holding a stick. “What’s that for?” asked the other frog. “For protection,” said the frog with the stick. “This stick is to beat off the dog.”
“What dog?” said the other frog, quickly looking over his shoulder. “I can’t see a dog. There is no dog!” “Not now there isn’t, not at this moment,” replied the frog with the stick. “But what if a dog should come swimming across the pond and try to eat us up? Better be safe than sorry.” The other frog was puzzled. “But no dogs ever come swimming in the pond,” he protested. “At least I’ve never seen one. In fact I can’t even remember seeing one on the edge of the pond. And why would a dog want to come swimming in the pond anyway? They’re not so fond of swimming as us frogs, you know.”

Now, by looking at the pics, you can imagine what happened…I put questions forward to 9 year old children e.g. Should we always be prepared? Should we always think about all the “what ifs”? Is it ridiculous thinking the worst might happen? Why would you want to be prepared for the worst? What do you need to be well prepared? What do you see as “the worst”? How else can we prepare us for the “worst”? This book lends itself to numerous questions and at least an hour’s discussion with children. One of the “what ifs” in this book really happened at the end! That was the dog…but the frogs were already gone and not there to see the dog…

If you want to leave your point of view about these questions, it would be well received!


Image: frogsonice
Please click HERE to read a story about two frogs..do enjoy

Read Full Post »

afrikaans-2

Meer Afrikaanse stories op hierdie volgende link asook boeke wat aanbeveel kan word. Die link sal in ‘n nuwe venster oopmaak.
https://chessaleeinlondon.wordpress.com/2008/09/26/storietyd-storytime/

Hierdie stories het ek in ‘n “Zip”-lêer eendag iewers van ‘n webbladsy afgelaai, ek kan nie eers meer onthou waar nie. In elk geval, ek blog dit omdat dit kosbare stories is van een van ons fantastiese skrywers, Pieter W Grobbelaar. Geniet dit!

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

ANTJIE SOMERS

As paaiboelie het Antjie Somers geen gelyke in Afrikaans nie. “Oppas vir Antjie Somers. Hy sal jou in sy groot sak stop!” is ‘n dreigement wat baie geslagte kinders soet gehou het. “Hy”, ja, want Antjie Somers was natuurlik eintlik ‘n man. Hier volg een van die talle maniere waarop die verhaal vertel word.

Andries Somers was ‘n voorman onder die Strand se vissers. Wie kon soos hy ‘n treknet vasvat? Wie ‘n spaan met hom laat sak? Nee, niemand nie. En dapper! Waar iemand in gevaar gekom het, was Andries Somers eerste by. Nes ’n see-eend kon hy swem, en talle drenkelinge het hy land toe gebring as die ander al lankal moedverlore was.

Maar afguns is daar altyd, en skoorsoek is g’n kuns nie. Eendag op die strand pak ‘n klomp vissers hom. Andries laat nie met hom speel nie. Hulle kantel voor sy vuiste. Maar een bly te stil lê waar sy kop ‘n klip gevang het. Andries moet vlug, anders hang die mense hom dalk op. Hy kry ‘n sisrok van sy suster. Hy bind ‘n kopdoek om. Hy haak ‘n mandjie oor sy arm. Toe kies hy koers, diep na die binneland.

Op ‘n plaas agter die berge gaan verhuur hy hom. En hy werk weer soos net hy kan. Van die voordag staan hy bak tot dit laat word in die aand. Wingerd spit of pars of mis ry maak nie saak wat hulle doen nie. Andries Somers word die voorman op die plaas.

Maar die afguns het ore en ‘n storie baie tonge, en voor lank skinder die mense kliphard onder mekaar.

“Vertel ons,Andries, van die sisrok wat jy in jou huis wegbêre,” por die ene.

“En die kopdoek, Andries Somers ? Of is jou naam dalk eintlik Antjie?” pla ‘n ander.

“Antjie Somers! Antjie Somers!” koggel hulle.

Andries Somers laat sy kop sak, en hy maak of hy nie hoor nie, want naderhand kom daar weer nuwe rusie. Maar die derde dag toe kan hy hul geterg nie meer verduur nie. Daardie aand pak hy sy bondel, en hy maak dat hy daar wegkom.

Nooit weer keer Andries terug nie. Nêrens slaan sy spoor weer uit nie. Hy het soos ‘n gees verdwyn.

Maar al meer vertel die kinders wat saans teen die berg gaan hout soek van ‘n ou vrou wat hulle verjaag.

“Sy het ‘n rooi kopdoek,” sê een kind.

“Sy het ‘n sisrok met groot strepe.”

“Sy het ‘n lang mes.”

“En ‘n mandjie.”

“En ‘n streepsak oor haar skouer.”

“Sy wil ons vang en in haar sak prop!” kerm hulle.

En die grootmense skud kop. “Dit is daardie Antjie Somers,” sê hulle onder mekaar.

Andries Somers raak vergete: dapper Andries, flukse Andries, Andries wat altyd kon voorvat. Maar een storie word al luider en geslagte lank herhaal: “Antjie Somers! Antjie Somers, Antjie Somers gaan jou vang!”

————-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

DIE HEKS VAN HEXRIVIER

Hierdie mooi, eg Afrikaanse sprokie is ‘n goeie voorbeeld van ‘n verhaal wat waarskynlik rondom die naam van ‘n bepaalde plek ontstaan het.

Elise was ‘n mooi meisie. In die hele vallei het geeneen soos sy gewoon nie. Maar ongelukkig het sy aan hoogmoed gely. As die jong mans by haar kom kuier, het sy net haar neus opgetrek en gesê: “Eendag sal die mooiste en beste en fluksste jong man my kry.”

Op ‘n dag kom Flip met sy sweetvos by die plaas aangery. Dit is goed om hom te hoor lag. Hy is mooi om na te kyk. Vir werk is hy nie bang nie. Toe weet Elise: dis die jong man vir wie sy gewag het. Maar sy is nog hoogmoedig. “Gaan pluk vir my die bloedrooi disa wat op die hoogste krans groei,” sê sy. “Dan sal ek weet dat jy my liefde werd is.”

“Ek gaan,” sê Filip.

Flip klim en klim, en soos hy klim, sing hy.

Flip klim en klim met ‘n lag.

Flip klim tot hy tussen die kranse kom. Daar ver op ‘n rotspunt wat oor die diepste afgrond hang, blom die rooi disa.

“Nou gaan ek jou pluk,” sê Flip. “My bruid wag vir my.”

Maar toe hy vooroor buk, krummel die klippe onder sy voet. Hy gryp, maar dis net die disa wat hy beetkry. Hy stort met die blom in sy hand na benede.

Toe Elise van Flip se dood hoor, breek haar hart. “Filip! Filip!” snik sy, maar dit is te laat. Filip! Filip!” huil sy, maar dit help nie meer nie. “Filip! Filip!” roep sy, en sy klim die berg in na die plek toe waar die bloedrooi disa gestaan het.

Toe sy die geknakte blomsteel sien en die spore van Filip se val, kan sy nie meer nie. Filip! Filip!” sug sy en sak inmekaar. En die afgrond gryp haar soos hy Flip gegryp het, en sy val haar te pletter.

En nou nog, vertel die mense, kan jy haar daar sien dwaal. Dis net ‘n skim wat van haar oor is. Haar geroep is ‘n suggie wind. Maar sy kan nie rus vind nie. Elke maanlignag kom sy weer om na haar Filip te soek, al sal sy hom nooit kry nie.

“Dis haar verdiende loon, sê die mense. “Haar hoogmoed het ‘n jong man se lewe gekos. Sy is ‘n heks!”

So het die mooiste jong meisie van die vallei die Heks van Hexrivier geword.

—–

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

WOLF LEER VLIEG

Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.

“Ai, Aasvoël,” kla Wolf, “kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?”

“Dis maklik, antwoord Aasvoël. “Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien.”

“Leer my dan ook vlieg,” soebat Wolf.

“Goed,” sê Aasvoël. “Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen.”

Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf meet net vasklou.

“Sien jy, Wolf?” roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. “Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke.”

Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.

“Eina!” tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.

“Laat dit vir jou ‘n les wees!” roep Aasvoël van bo af. “‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid.”

———-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

VAT HOM, JAKKALS!

Deur hul aanraking met mekaar, het die sprokies van die verskillende rasse so vermeng dat ‘n mens soms nie weet waar die Boesman storie ophou en die Hottentot invloed begin nie om van die invloed van wit en swart mense nie eens te praat nie. Maar die belangrikste bly die verhaal self.

i. Ryperd

Jakkals is kwaad vir Hasie, want hy het stories by vrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.

“Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”

En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.

Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”

“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.

Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”

Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag lag in die bossies.

“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê vrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”

ii. Die Byekerk

Hasie hardloop na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. “Ai!” sê Hasie:

“Lekker is lekker,

en goed is goed –

en die beste lekker

is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande laat proe.

Maar Hasie het klaar geskrik en ver gedink. “Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie.

iii. Vat Hom, Jakkals!

Maar Hasie is glad te gerus. Sing sing in die paadjie. Wirts warts om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Woep! daar sit hy. Jakkals het voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie.

Hasie word stil. Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk die ongeskik! Hierdie ander jakkals druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer beskou.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems! al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,

en kwaai se voet:

ou Jakkals soek

sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

———

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

SOP MET ‘N SKOP

Die Boesmans het die dierewêreld fyn deurgekyk. Daarom is Leeu vir hulle die sterke, Wolf soos Hiëna dikwels genoem word ‘n wreedaard, en Jakkals ‘n lafhartige bedelaar.

Wolf het ‘n ver pad geloop om by sy broer te gaan kuier. Nou is hy honger en dors. In die veld kry hy Leeu wat aan ‘n sebra lê en eet. ‘n Entjie weg sit Jakkals vir ‘n bietjie oorskiet en wag.

“Naand, Leeu,” sê Wolf vriendelik.

“Mmm,” sê Leeu, en hy kraak ‘n murgbeen oop.

Wolf gaan op sy hurke sit. “Hoe lyk dit, nooi jy my dan nie om ‘n stukkie saam te eet nie?”

“Ja, ja!” sê Jakkals gretig.

“Bly stil!” sê Wolf, en Jakkals gee ‘n paar tree pad.

“Nee,” sê Leeu, en hy skeur aan die boud se sagte vleis.

“Net so ‘n bietjie soppies om op te lek,” vra Wolf. “Ek is baie dors.”

“Ek lek my eie sop,” sê Leeu.

“Net ‘n ou murgbeentjie om af te eet,” soebat Wolf.

“Dè, vat dan!” sê Leeu, en hy gooi vir Wolf die been wat hy nou net self droog gesuig het.

“En wat van my, Leeu ? ” vra Jakkals met ‘n huilstem.

“Trap!” sê Leeu, en hy mik met sy voorvoet.

Jakkals verskuif nog ‘n entjie verder weg.

Wolf vat die been, en hy kou daaraan asof hy tog te lekker kou, en hy suig daaraan asof daar baie te suig is. Toe staan hy op. “Baie dankie, Leeu,” sê hy. “Ek sal sulke vriendelikheid nie vergeet nie. Kom eet gerus môreaand ‘n bietjie sop by my.

“Dankie, ja,” sê Leeu, en hy lek al klaar sy lippe af, want hy weet Wolf se maats is dood as dit by sop kook kom.

“Dankie, ja!” sê Jakkals asof Wolf hom ook genooi het, en hy gaan lek die droë been af wat Wolf laat agterbly het.

Agter die bultjie kom Wolf op ‘n volstruis af. Dis net vere en voete, en toe begin Wolf weglê. Die stuk wat oorbly, sleep hy saam huis toe. “Eet julle maar die vleis, ” sê hy vir sy vrou en kinders. “Laat bly net die bene vir my.”

Die volgende dag sit Wolf twee potte op die vuur vir die volstruissop. Die een pot haal hy betyds af om koud te word, maar die ander pot hou hy kookwarm.

Dis ook nie te lank nie, of hier kom Leeu aan met Jakkals op sy spoor. “Hoe lyk dit met daardie sop waarvan jy gepraat het, Wolf?” vra Leeu.

“Ja, hoe lyk dit met die sop?” vra Jakkals.

“Kom sit maar hier in die ry,” sê Wolf, en hy beduie waar sy vrou en kinders al wag.

Vrou Wolf hou haar mond oop, en Wolf gooi in, maar dis van die koue pot s’n. So gaan hy van kind tot kind, en hulle drink tog te lekker. Maar toe hy by Leeu en Jakkals kom, skep hy twee bekers van die vuurwarm sop uit. “Maak wyd oop!” sê hy, en hulle maak so.

Toe gooi hy.

Leeu wil nog sluk, toe spu hy al dat die sop met so ‘n wye boog staan. “Sjoe, vriend Wolf,” sê hy kortasem, “maar jou sop is vandag darem kwaai.”

“Dis van ‘n volstruis se bene,” sê Wolf. “Dié voël kan mos so kwaai skop. Wil jy nog ‘n bietjie hê?”

“Nee, dankie,” sê Leeu, “ek dink ek loop maar weer.”

En Jakkals? Hy kan nie insluk nie, want dis te warm. En hy kan nie uitspu nie, want hy is te bang vir Wolf. Daarom sit hy so met die trane wat oor sy wange loop. Maar toe Leeu wegdraf, draf hy saam, en hy maak sy mond agter ‘n bossie leeg. En nou nog as Jakkals so in die maanskyn wag dat Leeu klaar moet eet, en hy dink aan daardie sop, dan begin hy sommer van nuuts af huil.

Luister maar mooi.

“Kwaai sop!” tjank Jakkals. “Volstruissop! Volstruissop met ‘n skop!”

———-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

JAKKALS VERTROU SY EIE VREDE NIE

Op ‘n oggend snuffel Jakkals tussen ‘n klompie bome rond, toe hy Hoenderhaan op ‘n hoë tak gewaar.

“Môre, my liewe Haan,” groet hy vriendelik.

“Môre, Jakkals,” groet Haan. “En waar stap jy dié tyd van die oggend nog rond?”

“Ek soek ‘n bietjie ordentlike geselskap,” sê Jakkals vinnig. “Maar dis nie lekker om so kop in die lug te staan en praat nie. Kom sit liewers hier by my.”

“O nee,” antwoord Hoenderhaan. “Ek ken jou streke. As ek naby jou kom, eet jy my op.”

“Nog nooit nie!” roep Jakkals uit. “Het jy dan nie gehoor nie? Daar is vrede in Afrika onder al die nasies.”

“Koe-ke-le-koe!” lag Haan.

“Hoekom lag jy?” vra Jakkals.

“Nee, ek lag sommer vir al jou stories,” antwoord Haan. “En dan lag ek vir my eie storie ook.”

“Wat se storie is dit?” vra Jakkals.

“Gisteraand het Wildehond my bekruip,” vertel Haan. Toe moes ek die bome in vlug. Nou is Boer met sy honde op pad om my te soek. Ek kan hulle al sien aankom.”

“Nou ja, dan groet ek maar eers,” sê Jakkals skielik haastig.

“Hoekom wil jy al loop Jakkals?” vra Haan. “Ons gesels nou eers lekker. Jy is tog seker nie bang vir die honde nie. Daar is mos vrede in Afrika.”

“O ja,”‘ antwoord Jakkals, “maar die vraag is of die onnosele honde daarvan weet.” En hy draf vinnig weg.

AddThis Social Bookmark Button

Read Full Post »

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 176 other followers