Feeds:
Posts
Comments

Posts Tagged ‘kort afrikaanse stories’

Storietyd-Storytime

Images:Storiewerf

As jy hier is vir die stories – die PDF dokumente is verder af in hierdie inskrywing. Hierdie bloginskrywing is van ‘n hele paar jaar gelede – neem dit in ag.

To English readers, unfortunately, this post is only in Afrikaans, as it is about children’s stories in Afrikaans and all sorts of ramblings about Afrikaans authors and school stuff, so there’s no point I try to translate anything for you, but there’s tons of other stuff on this site to go through and I hope you enjoy what you find here. You may want to click on the second and third link in this post as it is in English and also about children’s stories…all links will open in a new window. There’s also a link for you to Dalene Matthee’s books/films…enjoy! I have also uploaded PDF’s (to the middle of this post) with Afrikaans poems and stories. There is even one PDF with a story about the SAN.

On this next link you can read about childrens’ books…English and Afrikaans. Some really great books to have.
https://chessaleeinlondon.wordpress.com/2008/07/07/your-closest-friend/
This story is an Afrikaans story…Bollie Konyn

Kliek HIER vir Storiewerf. Kliek op hierdie link waar jy Jakkals-en-Wolf Stories kan kry en ook audio-files sal kry met stories en op hierdie link gaan jy lekker Afrikaanse verhale kry. Alle links in die pos maak in ‘n nuwe venster oop! Hierdie link is ‘n oulike webbladsy oor Skrywers en Illustreerders..
This link has info on Dalene Matthee’s books and films. Books like Circles in the Forest, The Mulberry Forest, Fiela’s Child, etc. and on this link you can read about Alida Bothma, a book illustrator and artist.  These links will open in a new window.

Hierdie possie lê eintlik al hier op “draft” vir ‘n paar maande en ek het besluit ek wil hom nou van my af kry. Ek geniet hierdie Storiewerf website baie en ek dink dis die moeite werd om daar te gaan inloer as jy opsoek is na goeie kinderboeke en allerhande ander stories-gedigte-verwante boeke. Daar is natuurlik ook ‘n link vir die grootmense…Die boek waarvan jy die voorblad hier sien – “Krisis by Maroela” – is een van die Afrikaanse boeke wat talle kinders in die laerskool baie geniet het en seker nog steeds geniet. Die boek is eintlik ‘n opvolg op die boek: “Die besetting van Laerskool Maroela“…kinders vanaf ouderdom  9 geniet hierdie boeke baie, veral as hulle so bietjie hou van avontuur/spanning/pret. In die eerste boek begin die verhaal met ‘n lot boewe wat die skool “kaap”. Natuurlik is al die kinders in die skool morsdoodbang vir hierdie boewe op die eerste dag van ‘n nuwe skooljaar. Ongelukkig het ek nie daardie boek hier en kon ek nie hom inskandeer nie, maar hierdie tweede boek het saamgekom, saam met ‘n paar ander omdat my kinders geredeneer het dat hulle darem so bietjie Afrikaans wou hê om te lees hier in die land van die “vyand”! Hulle het albei die boek geniet. Die gedig.. “Die Pianis” het ek op Storiewerf gevind en ek het gedink die gedig van die 17-jarige meisie was nogal oulik. Volg hierdie skakels hierbo en jy sal nie spyt wees nie.

Dan gaan julle dit dalk “snaaks” vind dat ek hier werkskaarte blog!

Ek het al ‘n paar besoekers gehad wat in ‘n soek-terme ingesit het wat vir my ‘n aanduiding was dat daar dalk ‘n behoefte was na hierdie tipe werkskaarte. Ek het in SA o.a. vir Gr4-Gr6 Afrikaans onderrig – wat ek natuurlik verskriklik geniet het (saam met die talle ander vakke) Ek het o.a. begin om oulike gedigte/stories op my rekenaar uit te tik en om my eie begripsvrae en Taalkunde-vrae daarby te sit. Dit is ‘n probleem met boeke wat jy koop in die handel. Daar is goeie boeke, meeste van die tyd, maar ek het altyd geglo dat ek my werk beplan rondom die kinders wat voor my in die klas gesit het. Jy kan nie ‘n boek koop en net so gebruik en dink dis voldoende vir daardie spesifieke kinders, jy as Onderwyser moet aanpas vir die spesifieke kinders voor jou in die klas. Dit wat in die boek is, is juis daar om net ‘n gids te wees en jou net te help. Wel, dis hoe ek dit sien, baie ander mag dalk met my verskil. Dit hang maar van persoon tot persoon af. Met klasse wat gemeng is volgens vermoëns, met jy juis al verskillende werkskaarte/opdragte hê vir die verskillende groepe- in kort- differensiasie! Enige persoon wat dit nodig vind om hierdie pdf-dokumente af te laai en te gebruik, dis juis daar om dit te doen!

Ek het nog heelwat hier, veral vir Gr3-5, (omdat ek daarmee begin het en mag enkeles hê vir Gr6. Ek wil myself nou glad nie hier ooreis, maar doen dit met die grootste liefde vir die wat hier lees en dit vra!

Enige persoon kan die vragies afknip en verander volgens sy behoefte. Ek het die Word-dokumente omgeskakel in pdf, slegs omdat dit netjieser lyk. Die storie van die Reëndruppels het ek uit ‘n Daan Retief-boekie gekry met daardie titel. ‘n Dierbare storie wat ek altyd met Gr3 gedoen het sodra ons by die waterkringloop gekom het – in Wetenskap. Die kinders het die storietjie baie geniet. Hierdie pdf’s wissel vir kinders Gr3-Gr4. Selfs vir kinders in Gr 5/6/7 wat op ‘n laer vlak is. Jy sal weet watter tipe kinders jy in jou klas het en kan self oordeel hoe jy dit sal gebruik. Ek mis die Afrikaans klas-gee ontsettend vir die stories/gedigte skryf wat die kinders doen. Daar het altyd die oulikste stories/gediggies van hulle af gekom. Ek kan onthou met Gr3’s (voor ons hierheen gekom het…selfs voor die eerste keer!) skryf ons die storie van Rooikappie vanuit ‘n ander oogpunt gesien. Een dogtertjie besluit toe Ouma (wat deur die wolf in die kas toegesluit was) het ‘n selfoon by haar gehad en Ouma het sommer gou-gou haarself uit die penarie gered! Dit was nogal baie oulik uitgedink. En met advertensies…die Pienkies!! Kondensmelksakkies wat jy in pakkies van 10 te koop kry by Pick-a-pay…daardie maatskappy skuld my! My eie pienkie-advertensie was elke jaar die voorbeeld wat ek voorgehou het en die dag daarna, was omtrent die helfte van die klas by die skool met pienkies in hul kosblikke!

De Jager-HAUM ISBN: 07986 2974 6 –Die Krisis by Maroela…Johan Kock

“Die plofbare “pakkie” in die onskuldige omhulsel van ‘n klankversterker sou nie verdag lyk naby die vername eregas nie. Dat die minister die dag nou juis by Laerskool Maroela ‘n toespraak moes lewer, het die Organisasie gepas. Boonop was die briljante plan, om die ervare misdadiger, Mike, se ontsnapping te reël sodat hy die Organisasie se opdrag by die skoolkermis kon uitvoer, die waagstuk werd. Mike het die skool geken… En Mike wou wraak neem. Alles sou vlot verloop het, as dit nie vir die pille was nie… en die waagmoed van Deon Schoeman.”

Elsabe Steenberg…Stories vir Afrika

Die Pianis

Met sensitiewe
vlinder-vingers
wip jou hande
oor swart en wit
en wit en swart
raak-raak hier,
rus-rus daar
‘n lange, ‘n korte
‘n agtste
en die molle en kruise
en linkerhandtekens,
kom lê hier warm op my hart.
Met solo’s en duete
het jy jouself tot in my siel begelei
en jy trap nou die pedale van my emosies
met jou sagte-sagte voete.
Met donderslae en diep akoorde
speel jy jouself al dieper in my wese in,
tot jy weer
tikkel, tokkel
flidder, fladder,
iewers ver agter die Baby Grand,
so ver,
so onbereikbaar ver,
dat jy netsowel ‘n opname kon gewees het.
Oor swart en wit
en wit en swart
en grys het nie ‘n plek nie,
en c’s en e’s
en vir jou bestaan ek nie verder as g nie.
maar vir my is jy alles,
want jy het jouself
met geoefende vingers
onlosmaakbaar déél van my gemaak,
jouself in my in getoonleer.

Maryke Wennick

DIE PADDA

Padda, jou grootoog ding,

Kan jy wip of kan jy spring?

O, jy kan wip,

Wip-wip tot op die klip.

Ek kan tog sing

jou skurwe ding:

Ka-tjie-rie, Ka-tjie-rie

My ouma het ‘n kie-rie,

‘n kier-rie.

Vir wat spring jy nou weg?

Jou maniere is maar sleg.

Ek praat dan nog met jou,

Ek wil net vra:

Hoeveel vratte het jou vrou?

Tot siens jou skurwe ding,

wat met jou paddaboudjies

in ons visdam spring!

All of the PDF’s will open in a new window. Al die volgende PDF’s maak in ‘n nuwe venster oop. Sien verder in die inskrywing nog PDF’s wat bygewerk is. [opgedateer Augustus 2011 – ek wou nie die werkskaarte ‘delete’ nie en het dit goedgevind om dit ook hier te plaas en hoop iemand sal dit kan gebruik!]
Kliek op die pdf-dokument vir ‘n storie oor ‘n bokkie met begripsleesvragies. bokkie-begripslees-en-taal  Die Hoogmoedige muskiet – storie met ‘n les..Slim vang sy baas!. die-hoogmoedige-muskiet  Spookstories…gediggie met vragies! spookstories-gedig-leesbegrip    Die Reëndruppels…van Daan Retief… die-reendruppels  Die verwaande Walvis…gedig die-verwaande-walvis-gedig     Gedig…Skinderbek..met vragies…uit: 101 Diereverhale gedig-skinderbek
Afrikaans leeskaart voels
Begripslees en vrae BOKKIE en taal lettergrepe
Begripsvrae Luilekkerhappie
Leeskaart Luilekkerhappie
Helen Keller
Sampie 2
Karoo gediggie
Reën gedig
Die verwaande walvis gedig met vrae
Storie van die sterre
Storie wat die San vertel het van Heisib en die Volstruis
Vrugte gedig
Jenny Seed Die 59 Katte Hierdie is slegs ‘n gedeelte van die storie.
Koue lande Leeskaart
Wereldreis gedig met vragies
padda gedig hoogmoed
Leeskaart Die eensame teepot
Die direkte rede-pdf’s is slegs strokiesprente waarvan die teks verwyder is en leerders kan self hul eie teks invul!
DIREKTE Rede4
Direkte Rede 3
Direkte Rede 2
Direkte Rede 1
fiets gedig
Leesbegrip Liedjie

Miempie

Hier is Louise Prinsloo met ‘n paar kinders – sekerlik besig met interessante skrywerk!

Louise her haar eie website: louiseprinsloo.co.za

 

Kinders sonder fantasie ontspoor later
Elfra Erasmus
SY het ‘n groot droom, sê die bekroonde kinder- en jeugboekskrywer Elsabe Steenberg. ‘n Droom oor busse vol boeke wat op al die dorpe in die land aandoen en waar kinders (en grootmense), soos oorsee, boeke op straat kan koop. Elsabe se jongste publikasie, die kleuterboek Kariena Karyn, oor ‘n meisietjie wat vir die donker bang is, het pas by J.L. van Schaik-uitgewers verskyn. In die verhaal gesels Kariena met die goudvis, wat ”borrel-orrel-gorrel”, en die botterblom, wat sy stingel swaai en kraai van die lag, oor hoekom sy snags so skreeu. Die boek, wat in Engels heet Katie Colly Wobbles, is fraai geïllustreer deur Alida Bothma. Elsabe meen daar het ‘n verandering (en gelukkig ‘n verbetering) plaasgevind in die kinderboektemas oor die jare. Vroeër is ”verskriklik afgeskryf op kinders”. Die boeke het gehandel oor sake waarin grootmense geïnteresseer was. Deesdae is kinderboeke egter meer ”kindgerig”. Maar lees kinders nog? ‘n Mens bekommer jou daaroor sê sy, maar sê sy hoor bemoedigende verhale oor kinders wat nie meer as ses boeke by die biblioteek mag uitneem nie en vir wie dit ‘n allemintige probleem is dat hulle eers twee dae later weer ses mag uitneem! Om die jong TV-geslag voor die vervlietende prentjies op die stel weg te kry, is daar net een oplossing: ouers moet kinders van kleins af lief maak vir boeke. Sy het vir haar kinders begin stories lees voordat hulle twee jaar oud was en vir haar een seun bly lees totdat hy elf was, bloot omdat hy daarvan gehou het. ” ‘n Kind betree ‘n boek soos hy die wêreld betree, dit word deel van sy ervaring van die lewe.” Die skool maak nie juis in hierdie verband ‘n positiewe bydrae nie. Onderwysers is so besig om die kinders te léér dat daar nie meer tyd gemaak word sodat hulle net kan sit en lees nie. Is daar in ons moderne samelewing plek vir sprokies, of moet dit, soos in sommige kleuterskole in Pretoria, verbied word omdat dit nie die ”werklikheid” is nie? Kinders het sprokies en fantasie besonder nodig, sê sy. In sprokies is altyd ‘n element van geweld, maar dit word ”deurgewerk”. ”Elke mens het geweld of woede in sy onderbewuste wat deurgewerk moet word. Kinders moet dit van kleins af leer.” Fantasie bevat gewoonlik ‘n dieper waarheid en is nodig om ‘n kind gebalanseer groot te maak. Kinders wat daarsonder grootword, ontspoor heeltemal. Hulle ontwikkel later persoonlikheidsversteurings omdat hulle reeds te veel werklikheid moes hanteer. ” ‘n Mens kan byna sê, wat bly oor as daar nie fantasie is nie. Sonder fantasie is die lewe so eendimensioneel.” Oor of stories ‘n les moet bevat, voel sy sterk. ”Ek gril daarvoor. Stories moet ‘n kind laat groei omdat dit oorspronklik anders is. Dit moet nooit ‘n versuikerde preek wees nie. Kinders is te fyn, hulle let dit dadelik op.” Dis juis hoekom sy vir kinders skryf. Omdat hulle eerliker is as volwassenes. Soos die bekende Nederlandse kinderboek-skrywer Guus Kuijer gesê het: jy kan nie kinders bluf met literêre foefies nie. ”Die terugvoer wat ek van kinders kry, is heerlik. Omdat hulle so eerlik is, sal hulle nie aan my skryf as hulle nie werklik die boek geniet het nie.” As kenner van kinderboeke is sy bekommerd oor die toekenning van pryse vir kinder- en jeugboeke in Suid-Afrika. ”Daar moet gewerk word aan die keurders.” Kyk ‘n mens na die boeke wat bekroon word, is dit duidelik die mense wat dit beoordeel, het nie kennis van kinders nie. Sy sonder egter die die laaste paar jaar se toekenning van die Scheepers-prys uit as meer in die kol. * Dr. Elsabe Steenberg is reeds verskeie kere bekroon, onder meer met die J.P. van der Walt-prys vir Klawervyf (1975), die Sanlam-prys vir Boom bomer boomste (1980), die Tafelberg-prys vir Eendoring met lang bene (1979), Goue fluit my storie is uit (1986) en die Zoeloe-vertaling van Masilo en die monster (1991) is bekroon met Maqhawe Mkhizi-HAUM-Daan Retief-prys vir kinderliteratuur.
Op skool is verskeie van haar boeke voorgeskryf, onder meer Rooi kanarie Hoepelbeen, Waar is Pappa se panfluit en Ken jy die weerligvoël.
http://152.111.1.251/argief/berigte/beeld/1992/09/3/2/2.html
Boekeblad
Elsabé was altyd ‘n wenner
Marina le Roux
MISKIEN is Elsabe Steenberg in haar ryk en vol lewe nie na waarde geskat nie. Benewens kreatiewe en produktiewe skryfster was sy immers ook nog vrou en moeder, vertaler, resensent, akademikus, geliefde dosent en gewilde spreker by leeskringe en skryfskole. Maar daar was moontlik nie genoeg literêre bekronings nie. Die J.P. Van der Walt Prys twee maal, vir Klawervyf en vir Eendoring met lang Bene, die welverdiende Sanlam Prys vir Boom bomer boomste, en in 1993 die erepenning van die Akademie, het sy besonder waardeer. Maar sy het ‘n pragmatiese siening oor skryfpryse behou: “Dis so ‘n gedwonge soort ding. Wie wen, berus soms op wie die pryse toeken”, het sy by geleentheid gesê. Elsabé Steenberg was egter altyd ‘n wenner: onder haar toegewyde en getroue lesers, waaronder kleuters, kinders, tieners en volwassenes, en ‘n wenner oor die “draakstasie” in haar lewe. Nou is sy bevry van die rolstoel waarin sy die afgelope 20 jaar ‘n “vasgerankte” was. Ten spyte van die uitmergelende aanslae van veelvuldige sklerose, het sy steeds onwrikbaar geglo in die terapeutiese vennootskap met die letterkunde. Sy kon selfs met humor skryf oor haar siekte, die “gog”, die bedreigende “draakstasie” in haar outobiografiese werk Twee hang bo die Pad, vier Loop op die Mat:”Met genoegsame genade sal ek nou nie toelaat om die kern van dit wat ek is, aan te tas nie. Eerder sal jy my sterker maak, ‘n verbete vegter, ‘n dankbare mens. Maar ónderkry? O nee, onderkry sal jy my nie”. Hierdie lewensbeskouing het Elsabé Steenberg ten grondslag gelê. Sy was een van die mees prolifieke Afrikaanse skryfsters, veral dan van kinder- en jeuglektuur. As tiener het sy alreeds kortverhale gepubliseer, en haar eerste boeke het in 1968 verskyn : Die Moerasloper en Dat ek mag sien, wat vir televisie verfilm is as Sien jy nou? Sedertdien het daar ‘n wye verskeidenheid boeke, kortverhale, eenbedrywe, resensies en vaklektuur uit haar pen verskyn, vir volwassenes sowel as vir kinders Sy het egter altyd verkies om vir kinders te skryf, “omdat hulle tegelykertyd wond-baarder en oper is as grootmense én beter gewapen deur die vermoë tot verbeelding”. Die “wondbaarheid” van kinders is dan ook die herhalende tema in Steenberg se oeuvre. Gebore op Vrede, staan sy nou in die gees op Horeb, die hoogste piek van die Rooiberge by haar geliefde Clarens, en sy sien die beloofde land, sy glo en begroet dit.

http://152.111.1.251/argief/berigte/dieburger/1996/05/22/15/2.html

In Engels…Tree more-Tree most
Update: August 2011 – Opdateer: Augustus 2011 – Ek hoop dat die volgende PDF-lêers ook bruikbaar gevind sal word. Maak seker oor die Woordeboekbladsynommers in die vragies, want dit sal verseker nie dieselfde as jou klas s’n wees nie.

Althea die stokroosfeetjie
Althea en die Stokroosfeetjie – storie met vragies
Die Diefstal
Die Diefstal – storie met vragies
Die Haan en die Mieliepit
Die Haan en die Mieliepit – storie met vragies

Die Ongeluk
Die Ongeluk – storie met vragies
Die pot met die drie pote
Die Pot met die drie pote – slegs die storie, geen vragies
Mini raak ‘n spogmotor
Mini raak ‘n spogmotor – storie met vragies
Tessa
Tessa – storie met vragies
Wollie en Wippie
Wollie en Wippie – storie met vragies

Klik op die afbeelding vir ‘n groter weergawe

Die Leeu en die Muis -‘n Tradisionele fabel

Eendag beland ‘n piepklein muisie in die poot van ‘n yslike groot leeu. “Ek het jou gevang, Meneer Muisie, jy is myne!” brul die yslike groot leeu.”Asseblief, Grote Leeu, Koning van die Diere, moet my nie seermaak nie. Laat my asseblief los. My kinders wag vir my en die son sak al laag. As jy my loslaat, sal ek vir jou ook eendag ‘n guns bewys”, pleit die muisie.”Jy weet”, brul die yslike, groot leeu, “ek dink nie jy sal enige nut vir my wees nie. Jy is glad te klein om vir my gunste te bewys. Maar loop maar, ek sal jou lewe spaar ter wille van jou kinders. Toe, loop nou, voor ek van plan verander.”Piepklein Muisie skarrel vinnig weg en verdwyn in die bosse.’n Paar dae later word Grote Leeu in ‘n strik gevang. Hy is vas en kan nie roer nie. Hy brul en brul, maar kan nie loskom nie. Skielik hoor hy ‘n “piep-piep” hier naby hom. Sowaar, dit is dieselfde muisie wat hy ‘n paar dae tevore gevang het.”Lê stil”, piep die muisie, “Ek sal gou-gou die toue deurknaag, dan sal jy los wees.””Ag, ou Muisie,” kla Grote Leeu moedeloos, die toue is so dik en jou tandjies is so klein. Hoe sal jy dit regkry?”Maar die muisie hou net aan met knaag en sowaar, kort voor lank is daar ‘n yslike gat waardeur Grote Leeu kan kruip.”Baie dankie, Kleine Muisie. Jy het vandag my lewe gered. Al is jy baie, baie klein, het jy my gered toe ek magteloos was. Ek is jammer dat ek gedink het dat jy te klein is om my te help. Ek sal vir jou en jou kindertjies ‘n groot geskenk gee.” Hulle was vir ewig vriende. Source: Connexions

Die Skilpad en die Haas

‘n Skilpad is ‘n dier wat baie stadig beweeg.Eendag sê die uitgeslape skilpad vir Haastige Hasie: “Ek wed jou ek sal jou wen as ons twee resies hardloop.” Die hasie kyk verbaas na skilpad en dink by homself: “Ek het seker nie reg gehoor nie. Glo hierdie trapsuutjies nou regtig hy sal my wen? Weet hy nie hoe vinnig ek kan hardloop nie? Hier is nie ‘n hond op hierdie plaaswerf wat my kan vang nie!””Nou goed”, sê Haas, “ons kan môre resies hardloop en dan kyk ons wie kom eerste by die wenstreep aan.”Die volgende oggend het al wat dier is bymekaar gekom om hierdie resies dop te hou.Skilpad en Haas staan gereed.”Op julle merke, gereed en weg is julle!” roep die olifant en hy blaas die fluitjie so hard dat dit deur die bos weergalm.Haastige Haas spring met ‘n vaart in die pad.’n Groot stofwolk agtervolg hom en hy verdwyn heeltemal daaragter.Skilpad stap maar voetjie vir voetjie aan.Hy is baie rustig en glimlag vir homself.Hasie dink toe dat hy genoeg tyd het om nou eers ‘n bietjie te rus en ‘n bietjie te eet.Hy gaan lê uitgestrek in die koelte van ‘n groot boom en begin knibbel aan die smaaklike, vars, groen grassies wat daar naby hom groei. Dit smaak heerlik, dink hy, en lê agteroor.Hy lê so lekker dat hy insluimer en vergeet van Ou Skilpad.Skilpad is bult-op en bult-af.Hy kyk nie regs nie en ook nie links nie.Hy hou net aan.Uiteindelik is hy twee tree van die wenstreep.Dis toe dat Hasie wakker skrik en onthou!Hy spring soos ‘n weerligstraal daar weg, maar te laat!Skilpad is oor die wenstreep!Al die diere juig en klap hande vir die wenner.”Jy sien”, sê Skilpad, “dit is waar wat hulle sê: HOE MEER HAAS, HOE MINDER SPOED. Jy het gedink jy is vinniger as ek en toe het jy te gerus geraak.”Skilpad stap weg met ‘n glimlag wat nou nog breër is.
AddThis Social Bookmark Button

Read Full Post »

afrikaans-2

Meer Afrikaanse stories op hierdie volgende link asook boeke wat aanbeveel kan word. Die link sal in ‘n nuwe venster oopmaak.
https://chessaleeinlondon.wordpress.com/2008/09/26/storietyd-storytime/

Hierdie stories het ek in ‘n “Zip”-lêer eendag iewers van ‘n webbladsy afgelaai, ek kan nie eers meer onthou waar nie. In elk geval, ek blog dit omdat dit kosbare stories is van een van ons fantastiese skrywers, Pieter W Grobbelaar. Geniet dit!

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

ANTJIE SOMERS

As paaiboelie het Antjie Somers geen gelyke in Afrikaans nie. “Oppas vir Antjie Somers. Hy sal jou in sy groot sak stop!” is ‘n dreigement wat baie geslagte kinders soet gehou het. “Hy”, ja, want Antjie Somers was natuurlik eintlik ‘n man. Hier volg een van die talle maniere waarop die verhaal vertel word.

Andries Somers was ‘n voorman onder die Strand se vissers. Wie kon soos hy ‘n treknet vasvat? Wie ‘n spaan met hom laat sak? Nee, niemand nie. En dapper! Waar iemand in gevaar gekom het, was Andries Somers eerste by. Nes ’n see-eend kon hy swem, en talle drenkelinge het hy land toe gebring as die ander al lankal moedverlore was.

Maar afguns is daar altyd, en skoorsoek is g’n kuns nie. Eendag op die strand pak ‘n klomp vissers hom. Andries laat nie met hom speel nie. Hulle kantel voor sy vuiste. Maar een bly te stil lê waar sy kop ‘n klip gevang het. Andries moet vlug, anders hang die mense hom dalk op. Hy kry ‘n sisrok van sy suster. Hy bind ‘n kopdoek om. Hy haak ‘n mandjie oor sy arm. Toe kies hy koers, diep na die binneland.

Op ‘n plaas agter die berge gaan verhuur hy hom. En hy werk weer soos net hy kan. Van die voordag staan hy bak tot dit laat word in die aand. Wingerd spit of pars of mis ry maak nie saak wat hulle doen nie. Andries Somers word die voorman op die plaas.

Maar die afguns het ore en ‘n storie baie tonge, en voor lank skinder die mense kliphard onder mekaar.

“Vertel ons,Andries, van die sisrok wat jy in jou huis wegbêre,” por die ene.

“En die kopdoek, Andries Somers ? Of is jou naam dalk eintlik Antjie?” pla ‘n ander.

“Antjie Somers! Antjie Somers!” koggel hulle.

Andries Somers laat sy kop sak, en hy maak of hy nie hoor nie, want naderhand kom daar weer nuwe rusie. Maar die derde dag toe kan hy hul geterg nie meer verduur nie. Daardie aand pak hy sy bondel, en hy maak dat hy daar wegkom.

Nooit weer keer Andries terug nie. Nêrens slaan sy spoor weer uit nie. Hy het soos ‘n gees verdwyn.

Maar al meer vertel die kinders wat saans teen die berg gaan hout soek van ‘n ou vrou wat hulle verjaag.

“Sy het ‘n rooi kopdoek,” sê een kind.

“Sy het ‘n sisrok met groot strepe.”

“Sy het ‘n lang mes.”

“En ‘n mandjie.”

“En ‘n streepsak oor haar skouer.”

“Sy wil ons vang en in haar sak prop!” kerm hulle.

En die grootmense skud kop. “Dit is daardie Antjie Somers,” sê hulle onder mekaar.

Andries Somers raak vergete: dapper Andries, flukse Andries, Andries wat altyd kon voorvat. Maar een storie word al luider en geslagte lank herhaal: “Antjie Somers! Antjie Somers, Antjie Somers gaan jou vang!”

————-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

DIE HEKS VAN HEXRIVIER

Hierdie mooi, eg Afrikaanse sprokie is ‘n goeie voorbeeld van ‘n verhaal wat waarskynlik rondom die naam van ‘n bepaalde plek ontstaan het.

Elise was ‘n mooi meisie. In die hele vallei het geeneen soos sy gewoon nie. Maar ongelukkig het sy aan hoogmoed gely. As die jong mans by haar kom kuier, het sy net haar neus opgetrek en gesê: “Eendag sal die mooiste en beste en fluksste jong man my kry.”

Op ‘n dag kom Flip met sy sweetvos by die plaas aangery. Dit is goed om hom te hoor lag. Hy is mooi om na te kyk. Vir werk is hy nie bang nie. Toe weet Elise: dis die jong man vir wie sy gewag het. Maar sy is nog hoogmoedig. “Gaan pluk vir my die bloedrooi disa wat op die hoogste krans groei,” sê sy. “Dan sal ek weet dat jy my liefde werd is.”

“Ek gaan,” sê Filip.

Flip klim en klim, en soos hy klim, sing hy.

Flip klim en klim met ‘n lag.

Flip klim tot hy tussen die kranse kom. Daar ver op ‘n rotspunt wat oor die diepste afgrond hang, blom die rooi disa.

“Nou gaan ek jou pluk,” sê Flip. “My bruid wag vir my.”

Maar toe hy vooroor buk, krummel die klippe onder sy voet. Hy gryp, maar dis net die disa wat hy beetkry. Hy stort met die blom in sy hand na benede.

Toe Elise van Flip se dood hoor, breek haar hart. “Filip! Filip!” snik sy, maar dit is te laat. Filip! Filip!” huil sy, maar dit help nie meer nie. “Filip! Filip!” roep sy, en sy klim die berg in na die plek toe waar die bloedrooi disa gestaan het.

Toe sy die geknakte blomsteel sien en die spore van Filip se val, kan sy nie meer nie. Filip! Filip!” sug sy en sak inmekaar. En die afgrond gryp haar soos hy Flip gegryp het, en sy val haar te pletter.

En nou nog, vertel die mense, kan jy haar daar sien dwaal. Dis net ‘n skim wat van haar oor is. Haar geroep is ‘n suggie wind. Maar sy kan nie rus vind nie. Elke maanlignag kom sy weer om na haar Filip te soek, al sal sy hom nooit kry nie.

“Dis haar verdiende loon, sê die mense. “Haar hoogmoed het ‘n jong man se lewe gekos. Sy is ‘n heks!”

So het die mooiste jong meisie van die vallei die Heks van Hexrivier geword.

—–

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

WOLF LEER VLIEG

Wolf is moedeloos honger. Elke keer as hy by ‘n dooie dier kom, het Aasvoël lankal die lekkerste vleis afgeëet sodat net die kaal bene vir hom oorbly.

“Ai, Aasvoël,” kla Wolf, “kan jy dan nie vir my sê hoe jy so gou weet as daar iets te ete is nie?”

“Dis maklik, antwoord Aasvoël. “Ek vlieg hoog in die lug en kyk ver oor die aarde uit. Jy kan net tot by die bossies hier voor jou neus sien.”

“Leer my dan ook vlieg,” soebat Wolf.

“Goed,” sê Aasvoël. “Kom klim op my rug, dan kyk jy mooi wat ek doen.”

Aasvoël sprei sy kragtige vlerke, en Wolf meet net vasklou.

“Sien jy, Wolf?” roep Aasvoël toe hulle hoog oor ‘n lap doringbosse sweef. “Dis maklik. Spring nou af en klap met jou bene soos ek met my vlerke.”

Wolf duik deur die lug, maar hoe hy ook al skop en spartel, hy val soos ‘n klip, reg in die doringbosse.

“Eina!” tjank Wolf terwyl hy tussen die klouende takke uitsukkel.

“Laat dit vir jou ‘n les wees!” roep Aasvoël van bo af. “‘n Dier is gemaak om te loop, en ‘n voël om te vlieg. En as diere probeer vlieg, kom daar moeilikheid.”

———-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

VAT HOM, JAKKALS!

Deur hul aanraking met mekaar, het die sprokies van die verskillende rasse so vermeng dat ‘n mens soms nie weet waar die Boesman storie ophou en die Hottentot invloed begin nie om van die invloed van wit en swart mense nie eens te praat nie. Maar die belangrikste bly die verhaal self.

i. Ryperd

Jakkals is kwaad vir Hasie, want hy het stories by vrou Jakkals gaan aandra, en nou het sy haar man die huis belet. Maar Hasie het baie planne. Op ‘n dag hoor hy Jakkals suutjies in die paadjie draf. Toe gaan lê hy in die bossies en kreun.

“Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil net spring, maar Hasie antwoord met ‘n swak stem: “Vat my maar, Jakkals. Ek is te siek om te vlug. Tel my op jou rug, dan dra jy my huis toe.”

En Jakkals dink dis glad nie so ‘n slegte plan nie. Nou sal sy vrou sommer weer vir hom goed word as hy met ‘n lekker stuk haasvleis daar aankom. Jakkals laat loop in die paadjie af, en Hasie moet net klou.

Jakkals, Jakkals!” roep hy later, “Die vlieë pla baie. Pluk tog vir my ‘n taaibostakkie dat ek hulle kan wegjaag.”

“Ai, jy is lastig,” sê Jakkals, en hy gaan pluk maar.

Toe hulle nog van ver af na Jakkals se huis toe aankom, staan sy vrou al op die stoep om te kyk wat haar man hier kom soek. “Vrou, vrou!” roep Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet haas gebring.”

Maar kyk, nou sit Hasie regop, en die pyne is skielik uit sy lyf, en die taaibostak is ‘n lat. “Vrou, vrou!” koggel hy Jakkals. “Ek het vir jou ‘n lekker vet jakkals gebring!” En die lat gesels oor Jakkals se blaaie, en Jakkals bokspring en galop. Toe wip Hasie van sy rug af en verdwyn lag lag in die bossies.

“Nee, so ‘n treurige man wil ek nie hê nie,” sê vrou Jakkals. “Waar het jy al van ‘n jakkals gehoor wat hom deur ‘n haas laat ry? Maak dat jy wegkom hier voor my oë!”

ii. Die Byekerk

Hasie hardloop na die berg se kant toe, en daar sien hy ’n bynes diep in ‘n klipskeur. “Ai!” sê Hasie:

“Lekker is lekker,

en goed is goed –

en die beste lekker

is heuningsoet!”

En Hasie druk sy kop diep in die skeur om die nes by te kom, maar hy het nie geweet dat Jakkals al weer spoorsny nie. Hy sit nog so, toe Jakkals hom aan die hakskeen gryp. “Ha! nou het ek jou, Haas,” sê Jakkals, en hy wil hom sommer sy tande laat proe.

Maar Hasie het klaar geskrik en ver gedink. “Sjuut, Jakkals,” sê hy. “Kan jy nie hoor my vriende hou kerk nie?”

“Waar?” vra Jakkals nuuskierig.

“Hier in die klipskeur,” sê Hasie. “Ai, hulle sing tog te pragtig!”

“Laat ek hoor, sê Jakkals, en hy druk sommer in. Dan trek hy sy kop weer uit en sê: “Nee wat, hulle kan nie sing nie. Dis net brom brom brom, al op dieselfde wysie.”

“Hulle is seker moeg,” sê Hasie. “Steek ‘n bietjie ‘n stok daar by die voordeur in dat hulle weet ons is hier. Dan moet jy hoor.”

En Jakkals gryp ‘n stok, en hy werskaf in die klipskeur rond, en toe druk hy sy kop in om goed te luister.

Nee kyk, dit was ‘n sonde. Die bye mors met Jakkals; hulle verniel hom; hulle steek hom byna dood. Hy spring om en hardloop, maar die bye het nie tyd nie. Dis net zoem tjiek! “Eina!” Zoem tjiek! Zoem tjiek! Zoem tjiek! “Eina! Eina! Eina!”

Hasie lê soos hy lag. Hy rol soos hy lag. Hy maak hom eintlik seer. Nee, Jakkals sal hom nie gou weer pla nie.

iii. Vat Hom, Jakkals!

Maar Hasie is glad te gerus. Sing sing in die paadjie. Wirts warts om die bossies. Kyk nie waar hy loop nie; trap nie waar hy kyk nie. Woep! daar sit hy. Jakkals het voëlent aan ‘n stomp gesmeer en dit in die paadjie neergesit. Hasie spook, maar hy sit al hoe vaster. Hy ruk en pluk en skree.

Jakkals kom tussen die bossies uit. “Ha! nou het ek jou, Haas!” sê hy. Sy lippe is nog altyd skeef geswel van die bysteke sodat dit lyk asof hy nie kan ophou lag nie.

Hasie word stil. Ja, jy het my, Jakkals,” sê hy. “Nou kan jy my maar opeet. Dis net jammer om so dorstig te sterwe. Ek was juis op pad rivier toe.”

“Nee, ons kan ‘n bietjie gaan drink,” sê Jakkals, wat hom heeltemal droëtong gehardloop het om die strik vir Hasie reg te kry. Hy pluk Hasie los van die voëllym af, gooi hom oor sy skouer en stap af na die drinkplek toe.

Ai, hoe stil en blink is die water nie. Jakkals laat sy kop sak om te drink. Maar kyk die ongeskik! Hierdie ander jakkals druk sommer sy snoet tussenin. “Gee pad!” brom Jakkals.

“Wat is dit nou, Jakkals?” vra Hasie agter sy skouer.

“Kyk self,” sê Jakkals, en hy sit hom neer. En: “Staan soontoe!” sê hy vir die ander jakkals wat hom al weer beskou.

Hasie sien dadelik dat Jakkals met sy eie weerkaatsing baklei, maar hy sê niks nie.

“Loop weg hier!” sê Jakkals vir die derde maal, en hy wys tande, maar die waterjakkals wys terug.

“Moenie so met jou laat speel nie!” roep Hasie. “Kyk hoe staan daardie ander dier se mond soos hy jou uitlag. Vat hom, Jakkals!”

Toe Jakkals gryp, gryp die ander jakkals ook. Toe Jakkals duik, is hulle doems! al twee binne in die water. Toe Jakkals verdwyn, is alles weg.

“Ha ha ha!” lag Hasie:

“Kwaai is kwaai,

en kwaai se voet:

ou Jakkals soek

sy eie bloed!”

En toe Jakkals hangstert uit die water klim, sing Hasie al ver in die paadjie af.

———

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

SOP MET ‘N SKOP

Die Boesmans het die dierewêreld fyn deurgekyk. Daarom is Leeu vir hulle die sterke, Wolf soos Hiëna dikwels genoem word ‘n wreedaard, en Jakkals ‘n lafhartige bedelaar.

Wolf het ‘n ver pad geloop om by sy broer te gaan kuier. Nou is hy honger en dors. In die veld kry hy Leeu wat aan ‘n sebra lê en eet. ‘n Entjie weg sit Jakkals vir ‘n bietjie oorskiet en wag.

“Naand, Leeu,” sê Wolf vriendelik.

“Mmm,” sê Leeu, en hy kraak ‘n murgbeen oop.

Wolf gaan op sy hurke sit. “Hoe lyk dit, nooi jy my dan nie om ‘n stukkie saam te eet nie?”

“Ja, ja!” sê Jakkals gretig.

“Bly stil!” sê Wolf, en Jakkals gee ‘n paar tree pad.

“Nee,” sê Leeu, en hy skeur aan die boud se sagte vleis.

“Net so ‘n bietjie soppies om op te lek,” vra Wolf. “Ek is baie dors.”

“Ek lek my eie sop,” sê Leeu.

“Net ‘n ou murgbeentjie om af te eet,” soebat Wolf.

“Dè, vat dan!” sê Leeu, en hy gooi vir Wolf die been wat hy nou net self droog gesuig het.

“En wat van my, Leeu ? ” vra Jakkals met ‘n huilstem.

“Trap!” sê Leeu, en hy mik met sy voorvoet.

Jakkals verskuif nog ‘n entjie verder weg.

Wolf vat die been, en hy kou daaraan asof hy tog te lekker kou, en hy suig daaraan asof daar baie te suig is. Toe staan hy op. “Baie dankie, Leeu,” sê hy. “Ek sal sulke vriendelikheid nie vergeet nie. Kom eet gerus môreaand ‘n bietjie sop by my.

“Dankie, ja,” sê Leeu, en hy lek al klaar sy lippe af, want hy weet Wolf se maats is dood as dit by sop kook kom.

“Dankie, ja!” sê Jakkals asof Wolf hom ook genooi het, en hy gaan lek die droë been af wat Wolf laat agterbly het.

Agter die bultjie kom Wolf op ‘n volstruis af. Dis net vere en voete, en toe begin Wolf weglê. Die stuk wat oorbly, sleep hy saam huis toe. “Eet julle maar die vleis, ” sê hy vir sy vrou en kinders. “Laat bly net die bene vir my.”

Die volgende dag sit Wolf twee potte op die vuur vir die volstruissop. Die een pot haal hy betyds af om koud te word, maar die ander pot hou hy kookwarm.

Dis ook nie te lank nie, of hier kom Leeu aan met Jakkals op sy spoor. “Hoe lyk dit met daardie sop waarvan jy gepraat het, Wolf?” vra Leeu.

“Ja, hoe lyk dit met die sop?” vra Jakkals.

“Kom sit maar hier in die ry,” sê Wolf, en hy beduie waar sy vrou en kinders al wag.

Vrou Wolf hou haar mond oop, en Wolf gooi in, maar dis van die koue pot s’n. So gaan hy van kind tot kind, en hulle drink tog te lekker. Maar toe hy by Leeu en Jakkals kom, skep hy twee bekers van die vuurwarm sop uit. “Maak wyd oop!” sê hy, en hulle maak so.

Toe gooi hy.

Leeu wil nog sluk, toe spu hy al dat die sop met so ‘n wye boog staan. “Sjoe, vriend Wolf,” sê hy kortasem, “maar jou sop is vandag darem kwaai.”

“Dis van ‘n volstruis se bene,” sê Wolf. “Dié voël kan mos so kwaai skop. Wil jy nog ‘n bietjie hê?”

“Nee, dankie,” sê Leeu, “ek dink ek loop maar weer.”

En Jakkals? Hy kan nie insluk nie, want dis te warm. En hy kan nie uitspu nie, want hy is te bang vir Wolf. Daarom sit hy so met die trane wat oor sy wange loop. Maar toe Leeu wegdraf, draf hy saam, en hy maak sy mond agter ‘n bossie leeg. En nou nog as Jakkals so in die maanskyn wag dat Leeu klaar moet eet, en hy dink aan daardie sop, dan begin hy sommer van nuuts af huil.

Luister maar mooi.

“Kwaai sop!” tjank Jakkals. “Volstruissop! Volstruissop met ‘n skop!”

———-

Die Mooiste Afrikaanse Sprokies

uitgesoek en oorvertel deur

PIETER W. GROBBELAAR

JAKKALS VERTROU SY EIE VREDE NIE

Op ‘n oggend snuffel Jakkals tussen ‘n klompie bome rond, toe hy Hoenderhaan op ‘n hoë tak gewaar.

“Môre, my liewe Haan,” groet hy vriendelik.

“Môre, Jakkals,” groet Haan. “En waar stap jy dié tyd van die oggend nog rond?”

“Ek soek ‘n bietjie ordentlike geselskap,” sê Jakkals vinnig. “Maar dis nie lekker om so kop in die lug te staan en praat nie. Kom sit liewers hier by my.”

“O nee,” antwoord Hoenderhaan. “Ek ken jou streke. As ek naby jou kom, eet jy my op.”

“Nog nooit nie!” roep Jakkals uit. “Het jy dan nie gehoor nie? Daar is vrede in Afrika onder al die nasies.”

“Koe-ke-le-koe!” lag Haan.

“Hoekom lag jy?” vra Jakkals.

“Nee, ek lag sommer vir al jou stories,” antwoord Haan. “En dan lag ek vir my eie storie ook.”

“Wat se storie is dit?” vra Jakkals.

“Gisteraand het Wildehond my bekruip,” vertel Haan. Toe moes ek die bome in vlug. Nou is Boer met sy honde op pad om my te soek. Ek kan hulle al sien aankom.”

“Nou ja, dan groet ek maar eers,” sê Jakkals skielik haastig.

“Hoekom wil jy al loop Jakkals?” vra Haan. “Ons gesels nou eers lekker. Jy is tog seker nie bang vir die honde nie. Daar is mos vrede in Afrika.”

“O ja,”‘ antwoord Jakkals, “maar die vraag is of die onnosele honde daarvan weet.” En hy draf vinnig weg.

AddThis Social Bookmark Button

Read Full Post »