Photo:capestay.co.za/skipskop
Pak op, pak op,
sit jou goedjies op jou kop
Môre gaan ons weg, ver van die weg
Skipskop, Skipskop,
wanneer hou die dinge op
swaarkry lê nog voor,
die blou berge oor.
Overberg se mens, is ek gebore.
Op die plek Skipskop, nes my pa en sy pa ook.
Hier deur die duine, loop ons spore
Hier op die beach, hier langs die see is ek getoë
Maar wat ken ek anders, as die blou dam se branders
en die wolke en winde wat hier waai
Verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies
en sê maar so long, Skipskop, Skipskop sê goodbye.
Die linkerhand, of die regterhand
watse kant lê die plek, misverstand
asseblief meneer, ag sê tog weer
is dít die pad wat ons moet môre vat
´n stukkie lê hier, en ´n stukkie lê daar
die stukkies van my lewe, hulle lê baie deurmekaar
tel op vir shorty, en tel op vir pop,
gaan haal vir Apie en hou daai kindjie dop.
Maar wat ken ek anders
as die blou dam se branders
die wolke en die winde wat hier waai
Pak op jou goedjies, verkoop jou bootjie
en sê vir so long,
Skipskop, skipskop
sê goodbye
Maar wat ken ek anders
as die blou dam se branders
die wolke en die winde wat hier waai
Verkoop jou bootjie, pak op jou goedjies
en sê vir so long,
Skipskop, skipskop
sê goodbye
so long, Skipskop, skipskop
sê goodbye
Baie dankie aan Eelt vir hierdie bydrae wat hy vir my in die kommentaarboksie gelos het. Die link van die nuusberig is ook aan die einde van die berig. Volgens Eelt het Dana Snyman in een van sy boeke die geskiedenis van Skipskop opgeteken.
Vrydag 10 Desember 2004 bl. 16
Beeld
Johannesburg Finaal
Hoofartikel Bladsy
Beeld-Deurloop
Die vredige skildery lieg, mevrou, haal hom af
Dana Snyman
Ek wil met jou gesels oor daardie skildery teen jou sitkamermuur, mevrou – daardie een van die vissershuisies op Waenhuiskrans.
Ja, ja, die een wat net bokant die nuwe Serengeti-bank hang, links van die Claerhout: op die agtergrond is die see, met die huisie op die voorgrond, ‘n gesellige rokie kronkelend by die skoorsteen uit, ‘n wasgoeddraad vol helderkleurige rokke en broeke langs dit, en ‘n slapende hond of twee hoendertjies voor die deur. So vredig.
Nie dat jy die enigste een is wat só ‘n skildery van Waenhuiskrans se vissershuisies het nie, mevrou. Daardie skilderye hang geil in hierdie land se sitkamers, want oral is mense, met of sonder kunstalent, wat tog so graag daardie huisies skilder.
Al daardie skilderye lieg, mevrou. Ek het die laaste twee dae tussen daardie huisies in Kassiesbaai op Waenhuiskrans rondgestap en, glo my, dis glad nie soos op daardie skildery van jou nie. Ja, daar hang klere oor die wasgoeddrade langs daardie huisies, maar baie van daardie klere is oud en verbleik, mevrou. Party hemde het gate in, party broeke is gelap.
En, ja, voor ta’ Anna Benzien se huisie lê ‘n hond, so ‘n bejaarde pavement special, maar hy lê ook maar net omdat hy nie meer behoorlik kan stap nie, mevrou. Miskien is dit rumatiek of kanker of sommer net die ouderdom, maar daar is nie ‘n veearts op Waenhuiskrans nie.
Buitendien, mevrou, ta’ Anna het nie geld vir veeartse nie.
Hierdie Kersfees, mevrou, gaan antie Anna en haar kinders en al die kleinkinders daardie twee hoendertjies op jou skildery opeet, want ta’ Anna oorleef op ‘n staatspensioen, mevrou, en op Waenhuiskrans is nie werk vir haar kinders nie.
Jimmy, haar oudste, trôl nog soms op die skuite, maar die vis loop nie meer soos van ouds nie, mevrou. Die groot skuite met hul beernette het al die vis kom vat, mevrou, sodat ek en jy lekker in restaurants kan eet. Dis ook vreemd, mevrou, langs baie van daardie huisies staan gedaan ou motors, tog verskyn dit nooit op daardie skilderye wat in jul sitkamers hang nie. Is dit omdat ‘n gekrôkte Nissan Laurel of ‘n Austin Apache sonder wiele nie esteties genoeg vir die sensitiewe kunstenaarsiel is nie?
Voor oom Bob Dyers se huisie lê ook ‘n groot, pienk teddiebeer in die stof, mevrou, en by die deur staan twee leë brandewynbottels, en teen die voorhuismuur hang ‘n gehekelde Onse Vader – goed wat uiteraard ook nie op daardie skilderye van julle verskyn nie, mevrou.
Oom Bob sê nie eintlik veel nie, mevrou. Hy is mos maar stil sedert hy die beroerte-aanval in April gehad het. Oom Hennerik Grandfield, wat nes oom Bob ‘n visserman was toe daar nog vis was, praat wel, mevrou. Hy vertel hoe hy en sy mense in 1984 deur PW Botha se regering aangesê is om pad te gee van Skipskop af.
Skipskop was ook so ‘n fraai vissersdorpie nes Waenhuiskrans, mevrou. Maar toe besluit PW-hulle mos daar moet ‘n missieltoetsbaan gebou word, en toe moet oom Hennerik-hulle maar oppak en trek, die duine oor, Waenhuiskrans toe.
Nou sit oom Hennerik in daardie fraai vissershuisie teen jou sitkamermuur, mevrou.
Haal daardie skildery af, mevrou. Bêre hom. Steek hom weg.
Want jy het meer geld vir hom betaal as wat oom Hennerik tans in ‘n jaar verdien, mevrou.
http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2004/12/10/B1/16/01.html




