Feeds:
Posts
Comments

Posts Tagged ‘Rachel de Beer’

Ek wonder ook…. waar sou Eugene Marais die artikel so gou onder die neus kon hê – en ‘n legende sal dit bly – waar of nie waar nie. Indien dit nie regtig gebeur het nie, is dit steeds ‘n legende – hoeveel legendes is daar in ons wêreld wat slegs verhale is wat ‘oorvertel‘ is – vir die waarheid – of vir nie-waarheid. Dis vir jou om te besluit of jy dit wil glo of nie. Dus, waarom die groot ‘bohaai’? Ek was vir 10 dae ‘tuis’ en het die Beeld artikel ook by my – die link van die meegaande nuusartikel uit die Burger is heel onder aan die pos vir jou om die oorspronklike artikel te lees – met nog ‘n foto – van die Amerikaanse meisie. Nadat ek die artikel gelees het – en ek is ‘n groot aanhanger van E Marais! – het ek teruggesit en vir myself gevra: ‘Waarom die bohaai?’ – so what? Vir my sal die verhaal steeds dieselfde betekenis hê, dit verander geensins my opinie oor enige iemand nie.

Was Racheltjie eintlik ’n Amerikaner?

2012-10-06 05:43

G. Olwagen en Leo Kritzinger

Die vermoede dat die Voortrekker-heldin Racheltjie de Beer ’n versinsel is, bou al lank op omdat genealogiese navorsing geen getuienis kan vind wat met die gegewens in dié bekende verhaal strook nie. Die joernaliste G. Olwagen en Leo Kritzinger voer aan dat die verklaring dalk by die enigmatiese Eugène Marais gesoek moet word. 

Die vermiste skakel in die raaisel oor die herkoms van die heldeverhaal van Racheltjie de Beer – waaroor daar volgens navorsers groot vraagtekens hang – is waarskynlik niemand minder nie as “die Wonderwerker” van die huidige fliektreffer, die Afrikaanse regsgeleerde, natuurkundige, digter en skrywer Eugène Marais.

Die eerste opgetekende vertelling van die Racheltjie-heldedaad is in April 1921 in die Afrikaanse tydskrif Die Boerevrou deur Marais gedoen. 

Nou blyk dit dat dié vertelling merkwaardige ooreenkomste toon met ’n ware Amerikaanse gebeurtenis die vorige jaar: die dood van Hazel Miner (15) in Maart 1920 in ’n sneeustorm in Noord-Dakota in ’n poging om haar boetie en sussie van verkluiming te red. Hulle het verdwaal, nes met Racheltjie en haar boetie sou gebeur het.

Genealoë wonder reeds lank of onse Racheltjie regtig bestaan het. Ook die skrywers van hierdie artikel is al minstens twee keer met ’n fyn kam deur die ou De Beer-geslagregister, en nêrens lyk dit of daar iemand is wat sy kon gewees het nie.

Maar selfs al was sy dan nie daar nie, redeneer sommiges, bly sy ’n onlosmaaklike deel van ons kultuur­erfenis omdat haar legende tog ‘‘van geslag tot geslag’’ deur Afrikaners oorgedra is.

Ook dié stelling het ons egter begin hinder, want hoekom skitter Racheltjie so deur haar afwesigheid in enige geskrifte voor die begin van die derde dekade van die 20ste eeu? Die 19e-eeuse geskiedskrywer Gustav Preller het niks oor haar gerep nie, en dekades later ook nie eens die gerekende Afrikaanse Kinderensiklopedie wat in die 1950’s verskyn het nie.

Die eintlike besluit om verder op die saak in te gaan, het gevolg op ’n skrywe deur die joernalis Hennie van Deventer, Naspers se voormalige uitvoerende hoof van koerante, wat op sy blog dié vraag gestel het: Kan dit wees dat ons almal se kinderheldin slegs ’n mite is?

Die vernaamste aansporing was egter nog altyd die opspraakwekkende bevinding in 2002 deur die genealoë Diwwie en Jaleen de Beer dat hulle niemand, maar niemand, in hul omvattende familieregister kon vind wat die ware Racheltjie kon gewees het nie. 

Die De Beers was verstaanbaar huiwerig om te sê sy het nooit gelewe nie, want watter sterfling onder ons weet in elk geval alles van ons voorgeslagte se doen en late?

Maar selfs as sy dan maar net ’n volkslegende is, waar kon so ’n storie dan posgevat het? Is ’n mens dit nie verskuldig aan daardie mense wat selfs skole en wie-weet-hoeveel strate en ander dinge na haar genoem het om agter die kap van die byl te probeer kom nie? Racheltjie is selfs uitgebeeld in een van die tonele op die Kindermonument, op die fasade van die Sondagskoolgebou van die NG kerk in Bloemfontein, wat aan Suid-Afrikaanse kinderhelde gewy is.

Vandag onthou tallose Afrikaners hoe hulle kleintyd deur die verhaal van Racheltjie geboei is en nooit in die minste oor haar getwyfel het nie. 

Dit is sulke mense wat maklik verontwaardig sal reageer op die volgende stellings wat ons nou gedwonge voel om te maak: Racheltjie de Beer se naam is nie slegs nêrens in die De Beers se geslagsregister opgeteken nie, sy is in der waarheid Racheltjie Niemand.

Haar verhaal is die eerste keer vertel etlike dekades nadat sy veronderstel is om te gelewe het. En om ons “kettery” tot die uiterste te voer: Sy was geen Afrikaner-heldinnetjie nie, want ons het haar roerende storie by die Amerikaners oorgeneem.

Vir die Amerikaners van Noord-Dakota is daar oorgenoeg bewyse dat Hazel Miner ’n kind van vlees en bloed was. As 15-jarige het sy werklik haar lewe opgeoffer om dié van haar 10-jarige boetie, Emmet, en 8-jarige sussie, Myrdith, in ’n sneeustorm te red.

As plaaskinders van Center in Oliver County, Noord-Dakota, het Hazel en haar broer en suster ’n eenmanskool bygewoon. Op ’n dag in Maart 1920 is hulle vroeg huis toe gestuur weens ’n naderende sneeustorm. Hulle sou die sowat 3 km huis toe ry met ’n hoë slee wat deur ’n perd getrek is, maar die perd het op loop gesit, en hulle is magteloos in die storm ingesleep.

Naderhand was die sneeu só verblindend dat Hazel besef het hulle het verdwaal. Boonop het die slee toe ’n obstruksie getref en omgeslaan. Die kinders het vergeefs probeer om die slee weer regop te kry.

Uitgelewer aan die elemente in die ysige weer, het Hazel besluit om die omgekeerde bak van die slee as hul skuiling te gebruik, en sy het ’n kombers daaronder uitgesprei. Sy het haar boetie en sussie aangesê om daarop te gaan lê – en dan het sy ’n tweede kombers oor hulle gesprei.

Hierna het sy bo-oor hulle gaan lê om hulle warm te hou. Sy het hulle bemoedig en geweier om self onder die boonste kombers in te klim omdat sy dit haar plig geag het om hulle te beskerm. Naderhand was haar stem stil.

Só is sy dan gevind, eers 25 uur nadat die kinders die skool verlaat het, verkluim bo-op die ander twee kinders, met haar jas voor oopgeknoop en met haar arms oor hulle uitgesprei in ’n deernisvolle optrede van beskutting. Onder haar, steeds lewend, was Emmet en Myrdith.

Hazel is nadoods as ’n heldin in haar omgewing gehuldig, veral nadat haar verhaal op 15 Januarie 1921 in ’n artikel in The North Dakota Children’s Home Finder vertel is. Daar is vertel hoe hierdie ‘‘beskermengel van die prêries onder ’n dik laag sneeu haar eie lewe gegee het om haar broer en suster te red’’. 

’n Kinderwelsynsorganisasie wou haar verhaal gebruik om geld vir ’n weeshuis in te samel. Kinders regoor Noord-Dakota het uiteindelik geld bymekaargemaak sodat ’n monument vir haar opgerig kon word.

Marais se Racheltjie-verhaal het in Die Boerevrou van April 1921 verskyn – slegs enkele maande nadat die Hazel-verhaal in Januarie 1921 in die Home Finder beskryf is. 

In die vorige uitgawe van Die Boerevrou, in Maart 1921, het Marais geskryf oor ’n ander ‘‘dapper Afrikanermeisie’’, Annie Lotrie. Die Boerevrou, die eerste Afrikaanse tydskrif eksklusief vir vroue, is in 1919 met Marais se aanmoediging deur Mabel Malherbe gestig.

Die Marais-kenner Leon Rousseau bevestig ook in een van sy werke dat die verhaal van Racheltjie sover bekend die eerste keer in Die Boerevrou opgeteken is.

’n Mens kan nou kwalik anders as om een van twee afleidings te maak:

Eerstens, dat Marais die Amerikaanse verhaal te lese gekry het of op ’n ander manier daarvan te hore gekom het, waarna hy die kerndeel daarvan bewustelik verafrikaans het. Letterdiefstal of plagiaat kan ons dit weliswaar nie noem nie, want die milieus en omstandighede van die twee stories is te verskillend. Hy kon bes moontlik die verhaal as fiksie bedoel het, maar in die vorm van ’n historiese vertelling.

Tweedens kon Marais inderdaad die verhaal by iemand anders gehoor het, iemand wat sy eie versinsel gepleeg het met die Amerikaanse geval as sy riglyn.

Maar die verskyning slegs ’n maand of drie van mekaar van twee vertellings oor ’n tienermeisie wat met onbaatsugtige liefde haar lewe gee om ’n boetie (of boetie en sussie) te red wat tydens ’n sneeustorm in ’n hol beskutting in die oopte gelê het, moet ’n mens oortuig dat daar ’n verband moet wees. 

Dat sulke eenderse verhale amper gelyk in Amerika en Suid-Afrika gepubliseer is, kan eenvoudig nie as toeval afgemaak word nie, hoe ’n mens ook al daarna kyk.

Ander ooreenkomste tussen die twee vertellings bestaan ook, soos dat Hazel en Rachel (in Engels uitgespreek) baie eenders klink. 

En oor De Beer kan ’n mens bespiegel om die feit dat Hazel se van Miner was en dat De Beers die groot mynhuis in Suid-Afrika was! Maar kom ons aanvaar liewer dat die familienaam De Beer lukraak deur Marais (of dan sy informant) gekies is.

Dit was dus nie vir ons moontlik om te bepaal presies hoe die Hazel/Racheltjie-vertelling sy Afrikaanse baadjie gekry het nie. Kenners van die raaiselmens wat Marais was, sal met oneindig meer gesag kan praat oor sy moontlike aandeel in dié “misleiding” al dan nie.

Wat ons nietemin in ons ondersoek geïnteresseer het, is die sporadiese aanduidings dat hy goed in staat was om ’n spel tussen fiksie en werklikheid aan te bied, soos in “’n Voëlparadys” in Die Mielies van Nooitgedacht, en selfs dat dit Marais nie gehinder het nie om ’n teks namens ’n kind te skryf sodat sy dit onder haar naam vir ’n wedstryd in Die Boerevrou kon instuur (“Die Skepbekertjie”). 

Maar dit sê eintlik niks daarvan of Marais wel iemand was wat doelbewus ’n leuenstorie soos dié oor Racheltjie as die werklikheid sou kon verkondig nie.

Dit is voorts seker belangrik om te sê dat die praktyk om fiktiewe verhale oortuigend as historiese vertellings aan te bied, blykbaar niks vreemds vir daardie tyd was nie.

Moet ons dan nou maar finaal tot siens sê aan Racheltjie as een van die groot heldinne in Afrikaners se volksgeskiedenis? Ons vrees so. 

Maar as mense die storie van haar selfopofferende liefdesdaad wil aanhou vertel, wie kan sê hulle moet dit nie doen nie? Racheltjie, fiktief soos sy is, het steeds ’n baie belangrike boodskap vir ons almal.

Die verhaal van Racheltjie de Beer

Volgens oorlewering was die twaalfjarige Racheltjie de Beer in 1843 met haar ouers en sesjarige boetie, Japie, op die trekpad op soek na grond in die binneland toe hulle onderweg op ’n reeds gevestigde boer se plaas oornag het. 

’n Kalfie genaamd Frikkie, waarvoor die kinders baie lief was, raak weg, en die kinders is deel van die soekgeselskap. Maar dan raak hulle geskei van die ander soekers en verdwaal.

’n Sneeustorm bars los en dit word nag, maar hulle vind ’n groot miershoop wat dan deur Racheltjie uitgehol word (of reeds tevore deur ’n erdvark uitgehol is). 

Racheltjie en Japie kan nie albei in die holte pas nie. Onbaatsugtig trek sy egter al haar klere uit, trek dit vir haar boetie aan en beveel hom om in die miershoop te klim. Dan gaan lê sy voor die bek van die uitgeholde miershoop as verdere beskerming vir kleinboet Japie… waar haar lewelose liggaampie die volgende dag gevind word. 

Danksy haar eindelose liefde het Japie die nag in die sneeu oorleef.


’n Skokkende teorie, maar dit kort verdere getuienis, sê Leon Rousseau

Die meegaande artikel is vir kommentaar voorgelê aan Leon Rousseau, gesaghebbende Marais-kenner:

Ek moet beken dat Ollie Olwagen en Leo Kritzinger se artikel vir my ’n skok was.

Ek het met die storie van Racheltjie de Beer grootgeword, ek het dit in 1984 in Storieman opgeneem en dit verskyn weer in die heruitgawe van die Storieman-reeks waarmee Human & Rousseau nou besig is. 

Bowendien is dit een van die stories in Kotzé se Dapper kinders van Suid-Afrika (1962). Prof. D.J. (Dirk) Kotzé was ’n gesiene geskiedkundige.

As dié nuwe teorie gegrond is, beteken dit dat die kultuurbesit van die Afrikaner verder verskraal word. Rachel kan in een asem genoem word met Wolraad Woltemade. Hulle is ons aangrypendste helde.

Gustav Preller sou miskien gesê het: Verswyg die teorie ter wille van die volksaak. Dit kan ons ongelukkig nie meer doen nie.

Marais se vertelling in Die Boerevrou word duidelik nie as fiksie aangebied nie, maar as ’n greep uit die geskiedenis. Ek sien twee moontlikhede:

1. Marais het fragmente van ’n oorgelewerde heldedaad by iemand gehoor en oortuigende besonderhede bygevoeg, miskien selfs die heldin se voornaam, sonder om aan die wesenlike waarheid van die relaas te twyfel.

2: Marais het die storie willens en wetens uit sy duim gesuig omdat hy geweet het dat dit, veral in daardie tyd van ontluikende patriotisme en ’n verlange na volkstrots, groot byval sou vind. MER se Kinders van die Voortrek het toe kort tevore (1920) verskyn. Dit kan selfs wees, soos Olwagen en Kritzinger meen, dat hy die heldedaad van Hazel Miner by Suid-Afrikaanse omstandighede aangepas het. 

Maar sou ’n Amerikaanse voorbeeld nodig gewees het? Marais sou ’n groot aantal “kampvuurstories” geken het, miskien ook oor mense wat in sneeustorms verkluim. Sy lewendige verbeelding kon tot die heldedaad bygevoeg het.

Toe Marais die storie geskryf het, vroeg in 1921, het hy sonder morfien klaargekom. ’n Selfs tydelike oorwinning oor die dwelm het hom altyd groot werkvermoë en selfvertroue besorg. 

As “Rachel” ’n vervalsing was, is dit ’n meesterlike vervalsing. As ’n mens die storie vandag herlees, val dit jou op hoe Marais dit deur ’n opstapeling van besonderhede geloofwaardig maak en na ’n feitelike relaas laat klink.

Dit is egter alles gissings. Al wat nou oor Rachel seker is, is dat die verhaal van Hazel Miner op 15 Januarie 1921 in The North Dakota Children’s Home Finder (NDCHF) verskyn het en Marais se storie in Die Boerevrou van April 1921.

Die NDCHF klink na ’n streekblad. Hoe het dit in Suid-Afrika beland? En wanneer? 

Tydskrifte is in 1921 nie per lugpos ingevoer nie, maar per skip. Waar sou Marais daaraan gekom het, en hoe het hy dit betyds gelees om Rachel daaruit te fantaseer? 

Olwagen/Kritzinger sal oortuigende getuienis moet bring dat Marais die storie in die Amerikaanse blad gesien het.

http://www.dieburger.com/By/Nuus/Was-Racheltjie-eintlik-n-Amerikaner-20121006

Read Full Post »