Feeds:
Posts
Comments

Posts Tagged ‘Lewe’

Jy leef darem…nog

Dit het darem een keer in my lewe gebeur. Dit is ‘n Saterdagoggend – iewers in Pretoria. Dis vroeeeeeeeg oggend. ‘n Dringende klop aan die deur. Jy weet, dus sulke tyd… vinnig opstaan, opgewonde in die kar spring en Wonderboom lughawe toe jaag. Oppad, onder deur ‘n brug, word so byna ‘n verkeerde afrit geneem, maar gelukkig kon jy teen die verkeer in omdraai, sommer ‘n u-draai, dis vroeeeeeg oggend en daar is in elk geval byna geen verkeer nie – ook geen verkeerskonstabel in sig nie. ‘n Klein groepie meld aan vir ‘opleiding’ – drie ure [min of meer] se opleiding of eerder ‘n ‘crash course’. Buffel is gereed vir jou. Hy skree op jou en meisies word ‘cockroaches‘ genoem. – O ja,  byna almal is studente. Braaf. Baie braaf. Niemand is beindruk met Buffel nie. Daar word van hoogtes afgespring, rond gehardloop, getel en gerol. Uiteindelik, om en by 10:00 uur sit jy en wag om te spring. Technikon studente sit ook en wag. Hulle is ‘n groter groep -om en by 35 –  en dalk mag daar enkele plekke beskikbaar wees en kan  jy saam met hulle spring. Skielik wonder jy wat jy daar maak. Skielik wonder jy waarom jy ‘ja‘ gesê het. Skielik wonder jy oor baie dinge. Wat as… te veel ‘wat as’-‘se maal en flits deur jou kop, maar jy bly sit. Dan kom die aankondiging… jy kan gaan spring. Jy’s in die Cesna. Almal brabbel opgewonde-bang. Dan word daar op jou geskree…volgende! Jy staan gereed…wat het jou besiel…en jy spring! Het jy gespring? Jy’s uit, jy weet nie wat jou getref het nie. Jy kom ‘by’ en besef jy leef darem nog! Jy onthou dat jy het nie getel nie. Dis doodstil. Jy beweeg die ‘toggles’ en kyk om jou rond. Dit voel ‘vér’ en jy sien baie om jou. Dis doodstil. Jy hoor nie eers die wind nie. Jy kan nie glo dit kan so stil wees nie. Nog nooit het jy hierdie stilte beleef nie. Jy wil langer ‘daar bo’ hang om die stilte langer te beleef. Dis wonderlik – die stilte. Jy probeer dink hoe jy dit aan iemand anders gaan verduidelik. Dis nie moontlik nie. Dan val jy op die grond, gelukkig het jy onthou om jou bene bymekaar te hou en om te rol. Geen pyne of kluite wat jou pyn aandoen nie. Die valskerm – nie die moderne matras-tipe nie, maar ‘n ‘rocket’-tipe. Jy word beveel om die valskerm op te vou. In ‘n bondel verskree ‘n ou jou soos jy laag vir laag moet vou en almal doen dieselfde ding gelyk. Jy kry die volgende ou jammer wat daarmee moet spring – gaan hy dit lewendig maak? Jy voel selfvoldaan – tevrede, maar stap weg met die gedagte om nie weer te spring nie. Nie voordat jy nie voldoende opleiding gekry het nie. ‘n Oggend van 3ure kon ‘n lewe geneem het. Jy stap weg en dink weer na oor die lewe. Jy het nooit voorheen so daaroor gedink nie. In die foto – Leon vér regs. Hy het in ‘daardie jare‘ die Griekse marathon gewen – die eerste Suid-Afrikaner, toe hy nie mag deelgeneem het nie, sy neef, ook ‘n marathon hardloper, en die uwe. Dit was ‘n lekker tyd in my lewe. Baie opwindend.

Read Full Post »