Feeds:
Posts
Comments

Posts Tagged ‘Hillbrow’

Hillbrow Tower – now: Telkom Tower

Image: joburgnews.co.za

Dit was laat. Stadiger as gewoonlik ry ek terug huistoe, my gedagtes kies skielik koers na lank gelede. Pretoria Straat, Hillbrow. Ek onthou so helder. Byna die enigste keer dat ek ooit in ‘n middernag-kafee in Hillbrow, Johannesburg gesit het. Vroegaand het ons soos gewoonlik saam gekuier – in Pretoria – en besluit Hillbrow ‘roep’ ons. Ek onthou: ‘n Groepie vriende – ek was  toevallig  die engiste vroulike daardie aand, en ons gaan Hillbrow ‘verken’.  Wel, nie regtig nie, want van die groepie – sowat ses – was daar ouens wat reeds voorheen in Hillbrow was. ‘Gewapen’ met die wete dat die manlikes darem na my sou omsien, aangesien ek doodbang was [ja daardie tyd al] om dalk in ‘daardie plek‘ alleen gelaat te word, was ek vol moed en bravade en het taamlik uitgesien om ook later te kon sê: ‘Ek was in Hillbrow‘. Verras deur die klomp vriendelike mense wat buite die straatkafeetjies op die strate gekuier het, het ons ook by ‘n straatkafee ingestap. Dit was taamlik klein en ook reeds naby middernag, indien nie reeds verby middernag nie, maar ons het nie omgegee nie. Enkele paartjies het stil-stil saam gekuier. Die musiek! Dit was nie my ‘gewone’  tipe musiek nie, maar eerder jazz en jazz is nie regtig my smaak nie, maar wat my getref het, was dat die musiek perfek was vir die tyd en plek. Die kuier-atmosfeer wat ek daardie nag in Hillbrow ervaar het, was ongelooflik. Spyskaart word bekyk, ‘Pita’ word honger bestel. Jy staan en wag vir dit, neem self en sit jouself neer by ‘n kleinerige tafeltjie wat eintlik vir vier persone bedoel is, maar waar daar nou ses gaan sit!  Die musiek het my aandag elke nou-en-dan terug getrek, juis omdat dit so anders geklink het in die spesiale plekkie.  Ek het ‘n paar keer gedink hoe gepas die musiek was en hoe ek daarvan hou. Naby die plekkie was ‘n massiewe musiekwinkel –  ons het later daar verby gestap. Op ‘n stadium – soos jongmense maak – het ons natuurlik ‘laf’ geraak. Boemelaars het in die omgewing hulself agter hekke tuisgemaak en ons het – als vars in my geheue – die hekke geruk om hul slaap te stoor. Van hulle het vir ons geskree, omgesukkel omdat hulle nie met rus gelaat word nie en probeer verder slaap. Ons dit weer gedoen en aangestap. Later het ons roomys gekoop en op die hoek van Pretoria Straat en … ? gesit om dit te eet, terwyl ons die straat-naglewe ‘geabsorbeer’ het. Waarom sou mens sulke oomblikke onthou? Hoe werk jou brein dat die oomblikke ingeprent of vasgebrand is, nooit opgeroep word nie en dan skielik! – jy dink daaraan! Allerlei beelde kom in my geheue op. Beelde van waar ons gestap het, grappies wat gemaak is oor die boemelaars, ek ‘sien’ waar ons saam by die kafeetafeltjie sit, hoe ons tyd verwyl met filosofiese praatjies en gedagtes en dan die pad terug Pretoria toe. Ek’s byna by die huis en wonder, waarom het hierdie nag in my gedagtes opgekom, na so ‘n lang tyd? Hoe verklaar mens dit? Ek wonder watter ‘reis’ my brein volgende keer gaan neem, terug in my geheue en vir my weer laat onthou van die kosbare oomblikke, oomblikke wat jy met vriende gedeel het. Waar in die wêreld is almal nou? Jy wonder of hulle ook ‘helder’ oomblikke kry? Wat van daardie ‘nag’ in Hillbrow – en wat van ‘n Hillbrow-gedig, wonder ek.

Read Full Post »