
Ek was om en by 12-13 jaar oud toe ek eendag (weer) in die veld en in die rantjies rondgeloop het. In een voetpaadjie het ‘n miskruier – in ‘isolasie’ – my aandag getrek. Ek het besluit om die gediertetjie te volg en te kyk waarheen sy misbolletjie hom neem! Na ‘n vreeslike lang gewag en observasie – het ek opgegee, want sy roete was net te lank en dit was ‘n warm Desember! Tuis gekom, het ek in die Kennis-boeke gaan meer lees. Ek het vir ‘n paar dae gewonder oor my onderwerp hierdie jaar en hier is my bydrae tot die Afrikaanse taal vir 14 Augustus, Afrikaanse Taaldag!
'n Komplimentêre Kaartjie In die snikhete van die twaalfuurson - in skommellende isolasie - beweeg hy ritsellend, ritmies. Ongevraagd dog stemloos, soos 'n baldadige lakei, beskou ek die vasberade, onverskillige kruidjie-roer-my-nie-miskruier! Met sy ongeballanseerde dans verower hy heuwel na heuwel onder die koeltes van die blou wolklose hemel. En ek: onverwags, met belaglike kreune, het die aftog geblaas, welwetend dat als, in die snikhete son en onder die koeltes van die blou hemel, in my glimmende geheue geanker is! 14-8-21 21:30 Nikita

Die kritiek bedreigde vlerklose Addo- miskruier is ’n onmisbare skakel in die Addo-park se gesonde ekologie, maar word ongelukkig nog in hope doodgery wanneer besoekers oor onder meer olifantmis in die pad ry. Lees die artikel op News24.