Feeds:
Posts
Comments

Archive for the ‘Afrikaans poems’ Category

Die ‘Mayor Oak’ boom in Sherwood Forest
My poem about this forest. My annual contribution to the Afrikaans language. I have translated it for you too.
Die voetpad na die boom
Die voetpad na die boom is nog steeds bedek – half versteek.
Gure weer en aanhoudende reen oor die jare het die toegang onomkeerbaar versper.
Daar was eens ‘n voetpad wat deur die woud na die boom gelei het.
Voorheen was die area boomryk, lowerryk.
Koeltesoekers het passievol al die bome vereer –
snoesig soos ‘n lappieskombers het hul ingekruip
onder die wydverspreide skadu-kolle.
Selfs laventel-pers heide is met deernis aangeplant
wat net deur enkeling opgemerk word.
Baie molle het op hul reis onlangs kom vlerksleep –
waarvan al die molshope getuig.
Daar was eens ‘n voetpad deur die woud.
As jy die soomlose woud binnestap,
veral laat, in die laat somer –
wanneer die skarlaken-son laag sit
en die laat-middag woud-wind om jou fluit
en die eekhorinkie speels sy den binnegaan,
dan hoor jy die dowwe getrippel van perdehoewe in die verte
terwyl die mis ‘n dun wolk-laag begin vorm al om die
karbonkelrige boomstamme en welig-groeiende gras
en bedek stadig die eens voetpad wat deur die woud gekronkel het.
~~Nikita – 26-8-2020
English translation
The footpath to the tree
The footpath to the tree is still covered – half hidden.
Severe weather and persistent rain over the years have irreversibly blocked access.
There was once a footpath that led through the forest to the tree.
Previously, the area was tree-rich, leafy.
Cooling seekers passionately honored all the trees –
cuddly as a rag blanket crept in
among the widespread shadow spots.
Even lavender-purple heather was planted with compassion
which is noticed only by the individual.
Many moles have recently come to wing on their journey –
of which all the molehills testify.
There was once a footpath through the forest.
As you walk into the seamless forest,
especially late, in late summer –
when the scarlet sun sets low
and the late-afternoon forest wind around you whistle
and the squirrel playfully enters his den,
then you hear the faint tripping of horseshoes in the distance
while the mist begins to form a thin layer of clouds all around the
carbonaceous tree trunks and lush-growing grass
and slowly cover the once footpath that wound through the forest.
Nikita – 26-8-2020
Hierdie gedig het ek geskryf as my bydrae tot Afrikaans en om 14 Augustus, Afrikaans-dag te ‘vier’. Elke jaar probeer ek om my bydrae te maak rondom hierdie datum. Ons het so bietjie in Sherwood Forest gaan rondstap om veral die baie bekende boom waar Robin Hood en sy ‘manne’ vergader het. Die Major Oak – het ongelukkig gedurende die ‘lockdown’ bietjie deurgeloop deurdat vandaliste dele van die boom probeer vernietig het. Die boom is nou afgesper en word dit al vir baie jare gestut om die boom te beskerm – soos jy in die foto kan sien.Dit was eers in die jare ’50 toe mense besef het dat die boom bewaar moet word en is enige persoon verbied om in die boom te klim en klouter – soos dit gereeld die gewoonte was. As jy die kans kry en jy is in die omgewing van Nottingham, maak gerus ‘n draai by die woud. Dan is daar ook die Robin Hood Kasteel in Nottingham wat jy kan besoek en dit is baie beslis die moeite werd – maak net seker jy besoek die grotte ook. Sien die foto. You can go on a cave tour when visiting the Robin Hood Castle in Nottingham. English Readers: This is a poem I’ve written after my visit to Sherwood Forest. 14th August is also Afrikaans Language Day. This is my contribution to the Afrikaans Language, the most beautiful language in the world.

Read Full Post »

herfsblare

English Readers: my poem about Autumn in November. In the Southern Hemisphere, Autumn is not in November, but in March/April.

Hierdie gedig is my jaarlikse bydrae tot Afrikaans, wat ek tot dusver  14 Augustus probeer doen het – wanneer dit Taaldag. Ek’s so bietjie laat daarmee hierdie jaar, maar liewer laat as nooit. 

Herfs in November

Herfs in November – in die Noorde – 
is soos roomys in die winter. Dit pas nie.

Jy loop rond in stofverwaaide strate
Onverskillig kyk jy rond na
‘n mengelmoes van kleure
Bondels hare waai rond in die wind
En om hoeke van geboue fluit ‘n skerp windjie
Beelde van veranderinge flits om jou verby
Verslawend staar jy na bloedrooi papawers
En jy onthou: dis November maand!

Soms onthou jy ook van die fyn blomme
en die spruit wat iewers voort bly kabbel
in die berge waar die bobbejane geel perskes vreet
Dan dink jy aan die bloekombome en vinke in die lusernland
Vae gedagtes van die kleigat drentel in jou geheue
En jy strompel geduldig verder oor verkleurde blare
En wonder oor die liedjies van die lente.

Versperde donker wolke hang laag in die skemeraand
Dikgeweefde herinneringe van die aandkrieke wat
hul betowerende liedjies op vioolnote sing
sink en omvou onmiddellik jou gedagtes.
In die agterkamers van jou geheue
onthou jy die rooskleurige grassade wat buig in die wind
en skielik hoor jy die swaeltjies se twitter terwyl hulle
die lang, moeilike vlug terug huistoe neem.
©Nikita 22-11-2019 19:10

Read Full Post »

Some old favourites!

Jan F.E. Celliers (1865-1940) 

Die vlakte

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe ’t oor waat’re geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort
Lewiátansgeslagte, geweldig van kragte –
storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente –
die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
na die ewig hernuwingsgebod,
die stof van die verlede in vorme van die hede,
in eindeloos kome en gaan;
wat die dood my vertrou ’t, ek bewaar dit as goud,
en geen grein sal ’k verlore laat gaan.

As die son oor my vloer in die môre kom loer
en die dou van my lippe kus,
dan kyk ek net stom met ’n glimlag om
en lê maar weer stil in my rus.
Hoog bowe die kim op sy troon geklim,
is hy heer van lewe en dood;
na wil en luim geef hy, skraal of ruim,
verderf of lewensbrood.
Uit gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer
tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in bewende wasem
al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rondom sy stam op die grond
staat ’n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors:
my kinders versmag en beswyk,
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
om my skrale dis te ontwyk.

Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ’n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou
van marmer wat krul en leef –
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en leef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van ent tot ent;
die gras skud hul wakker om same te jakker,
tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en te buit
jaag ’n haelwolk langs verby,
soos ’n perde-kommande wat dreun oor die lande
vertrap en gésel hy –
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.

Stil in die duister lê ’k so en luister
hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy ’n baan daardeur
om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas –
en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat’re verspreid
op die boesem van die grote see.
Met ’n afskeidskus gaat die maan ook ter rus,
en ek wag op die daeraad –
so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi
wat lag in haar bruidsgewaad.

Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug
van brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in rooi skemerduister
van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
styg ’n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
weergalm uit die sterre-gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
tot die ende van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
wyd – in sy majesteit.

Jan FE Cilliers

Dis al

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ‘n voël draai bowe in eensame vlug –
dis al


Dis n balling gekom
oor die oseaan,
dis n graf in die gras,
dis n vallende traan –
dis al

 My own translation: see more of his poems translated on the “my gedigte/my poems”-page
That’s All

It’s the blond
It’s the blue
It’s the veld
It’s the air
and a bird circles above in a
solitude flight
That’s it

It’s an exile that came
across the ocean
A grave in the grass
A shed teardrop
That’s all.
–Nikita–2008

 

Trou

Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan,
ek hou van ‘n arm wat ‘n slag kan slaan,
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!

Ek hou van ‘n man wat sy moeder eer,
in die taal uit haar vrome mond geleer,
die verraaiersgeslag in sy siel verag
wat, haar verstotend, homself kleineer.

Die oog wil ek sien wat ‘n traan nog ween
vir ‘n heldegeslag, in hul rus daarheen,
maar ‘n blits van trou in die traan van rou,
wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen.

Vir my d’Afrikaner van durf en daad,
wat mammon’s eer en loon versmaad,
sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land
en ‘n trap van sy voet vir laag verraad!

O, ‘k hou van ‘n man wat sy man kan staan;
ek hou van ‘n daad wat soos donder slaan,
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!

Jan F E Celliers

 

Read Full Post »