
Ons het ‘n week gelede hierdie pragtige klein dorpie (village), wat in die Cotswold geleë is besoek. Nog altyd wou ek die Cotswold besoek omdat ek soveel keer al vertel is hoe mooi dit in daardie deel van die land is en nou het ek ‘n klein deeltjie daarvan beleef. Mense, maar dit is mooi! Ongelukkig het ons laat die oggend vertrek en ook nie tred gehou met al die paaie wat in die herstel is nie. In sekere areas was daar heelwat padwerke wat ons tyd nog meer verminder het. Gelukkig kon ons deur die voëlpark loop, wat net so oor die honderd voëlspesies het. Daarna kon ons gou-gou by die motor museum inglip, maar ons was nie betyds om in te gaan nie, maar kon darem van ‘n afstand die antieke motors bewonder wat vir ‘n ‘spin’ deur die klein plekkie gegaan het.
Bourton-on-the-Water is gedoop as die ‘Venice’ van die Cotswold en sedert die plekkie die naam gegee is, word dit oorstroom van besoekers van die binneland, waar dit voorheen hoofsaaklik van oorsee was. Die plaaslike inwoners is glo nie baie tevrede met die toestroom van besoekers, veral met die grendeltyd. Mens kan dit verstaan. Daar vloei ‘n rivier – Windrush rivier – deur die ‘village’ wat reg langs van die restaurante en eetplekke is en dis nou ‘n lekker kuierplek vir besoekers! Die Cotswold sal my beslis gou weer sien.
Nikita,
Dankie vir die interessante e-posse daar uit Ingeland (sic), ek waardeer dit!
Nou gaan haal ek ook my ‘common’-taar soos Jan Spies met ‘n draai. Ek spog met ons pragtige taal wat ek tot MAtriek gehad het, toentertyd nou reeds 62 jaar gelede.
Spelling was destyds in ons ingedril en ek is nie spyt. Daarom is daardie woordjie ‘huidiglik’ vir my so ‘n vieslike woord i.p.v. net ‘huidig’ of ‘tans’.
Nou beweeg ek nader aan dorpies en stede. Ons is geleer dat jy bly OP ‘n dorp maar IN ‘n stad. Seker omdat ‘n dorp deur jou boude 🙈 toegesit kan word waar ‘n stad maak dat jy net daarin verdwyn as maar net nog een van vele.
Die eerste wat my getref het van waar julle op die dorp was is die netheid. Hier by ons langs die Vuildam . . . nee, jammer, Vaaldam, gooi inwoners enige vullis langs die dam en op oop erwe weg.
Die munisipaliteit doen niks om toerisme te bevorder👹. Soms wonder ek of dit net ‘n blyplek is en nie ‘n woonplek? Vanaand my eerste muskiet aan’t huise gekry. Ek het toe die resep van die resitasie ‘Muskiete jag’ toegepas👍
Goed gaan daar en dankie vir die somer wat julle aan ons stuur🔥
Hi Peet! Jy laat my so lekker glimlag vir jou kommentaar – ook die vorige inskrywing s’n. Ja, Afrikaanse re-els is by my skool ook ingedril. Selfs op FB vandag het een van die taalkundige FB bladsye vir lesers gevra of leerlingraad een woord is of twee. Wel, ek is gedril met die volgende re-el (jammer, my sleutelbord laat my nie toe kom kappies of deeltekens te gebruik nie en indien ek regtig wil, moet ek dit in Word gaan kopieer en hier neerplak! 🙂 – soos ek met die inskrywing moes doen): As dit EEN ding is, is dit EEN woord. Dus: leerlingraad is EEN ding (of begrip) en dus EEN woord. 🙂 Dis nogal maklik in Afrikaans as jy die re-el ken of verstaan. Ek hou nogal van die woord ‘huidiglik’ – hoekom is dit vir jou ‘vieslik’? LOL Wat my grief is as mense praat van ‘ek gaan OP vakansie’ in plaas van ‘MET’ vakansie. 🙂
O ja, ek is bly vir die somer wat lyk vir my geland het – of nog besig is om te land. Hier gaan dit binnekort koeler word.
Ook oor die munisipaliteit: Ek dink nie hulle wil graag moeite doen met die Vaalrivier nie – te lui en lekkerder om NIKS te doen en ‘n salaris te kry.
Ja, EEN ding is een woord. Jare gelede met my pa op Trichardt se dorpsraad moes hulle die bord opsit langs die ingang vanaf Secunda. Die bord moes aandui waar is die TRICHARDTSFONTEINDAMONTSPANNINGSOORD. Nou-ja, so word dit dan ook gedoen en daar staan die ellelange inligtingsteken.
Moeder natuur het nie hiervan gehou en kort voor lank word die bord opgefrommel deur die wind.
Die aftog word geblaas en die bord word verander na:
TRICHARDTSFONTEINDAM-
ONTSPANNINGSOORD
HA-HA-HA, dit is snaaks, Peet. lol Ja, dis ‘n behoorlike lang naam. Maar daar is ‘n langer een: Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein!! 🙂
Ek beplan om Engeland oor 2 jaar te besoek. Tans spaar ons daarvoor. Ek gaan beslis hierdie dorpie op my lys van dorpe wat besoek moet word, sit. Baie dankie vir die info!
Wow, dit klink wonderlik! Jy sal nie spyt wees nie. Miskien moet julle dit ‘n weeksdag maak want dis glo so besig daar oor naweke en dit gaan nie lekker vir julle dan wees nie. Ons was die Vrydag daar en dit was reeds baie besig – maar dit was ook vakansie. Watter tyd dink julle om te kom?
Kan jy dalk raadgee wat weer betref? Wat sou die beste tyd wees?
Die beste tyd is vanaf Junie – laat in Mei begin dit regtig lekker word, maar die weer hier is so veranderlik, jy kan nog kouerige dae in Mei kry ook – dit het al hier in April gesneeu! Junie-Sept is jou lekker tyd.
baie dankie vir al die raad.
Dis ‘n plesier, as ek meer kan help, voel vry om te vra!
Ag heerlik, en ek sien uit na nog foto’s as jy weer gaan besoek.
Sal so maak! 🙂
Interesant, ek het op jou collage geklik, die fotos is baie mooi en oulik gedoen. ♥
Baie dankie! xx