Feeds:
Posts
Comments

Archive for August 18th, 2011

Eendag was daar drie baie gelukkige katte wat met Juffrou Mollie Smit gewoon het. Op ‘n dag was gryskat bitter ongelukkig. Al die glans was uit sy oë en hy het baie droewig en trietsig gevoel. Selfs die spin in sy keel het stom geword. Die swartkat en gemmerkat het baie bekommerd geraak en gewonder wat hulle kon doen om gryskat weer gelukkig te kry. Juffrou Smit het ‘n sonkol op haar bed gehad wat net skielik verdwyn het! Gryskat het daarvan gehou om in die sonkol te gaan lê. Dadelik het swartkat en gemmerkat begin om die sonkol te soek. Hulle het die huis behoorlik omgekeer, terwyl Juffrou Mollie uit was om inkopies te gaan doen. Kaste se laaie is oopgetrek, tafeldoeke is afgetrek, boekrakke is omgekeer, alles het inmekaar getuimel. Selfs ‘n glasvoël en porseleinbeeldjie van ‘n meisie het afgeval en bo-op ‘n hoop boeke op die mat beland. Hulle het later kombuistoe verskuif en daar gaan soek. Die kombuisgordyntjies was deurskynend en daardeur kon hul sien dat daar niks daaragter was nie. Later was hulle in Juffrou Mollie se slaapkamer en daar het hulle ook ‘verwoesting’ aangerig soos hul gesoek het. Toe sien hul die houtkis, waarin die nuwe teestel gepak was, reg voor die venster! Hulle het die kis bespring en probeer trek en later dit reggekry dat die kis kantel en begin val. Met ‘n gemiaau en ‘n geblaas het hul rondgespring soos hul geskrik het. Toe, met steeds verskrikte oë, sien gryskat Juffrou Mollie se bed raak! Op haar bed het die goue sonkol verskyn! Toe Juffrou Mollie tuiskom, was sy minder beindruk met al die gemors in die huis, maar besef waaroor als gegaan het. Sy het besef dat sy onnosel was om die kas voor die venster te skuif en sodoende die sonkol van gryskat te ontneem! – Die boek is een van my talle Afrikaanse kinderboeke wat ek het. Jenny Seed se boeke kan enige tyd gelees word, dit sal altyd ‘n wenner wees. Die illustrasies in die boek is ook puik, reg op die vlak van die kind wat maak dat die boek ‘n kinderboekwenner is.

Ek was getag deur Toortsie om ‘n ‘storie’ te skryf. Wel, baie stories kan ek skryf en het ek al geskryf. Al daardie stories is sommer net kort kinderstories – wat ons almal ken – geen rêrige waarheid skuil daaragter nie en dis meer oor die verbeelding van die klein kinderkind en om dit te prikkel. My storie gaan eintlik oor iets wat rêrig is. Dit bestaan en alle Suid-Afrikaners is daarby betrokke. Of jy in die land woon of nie. Jy is deel daarvan. Jy kan nooit jouself losmaak daarvan nie en al probeer jy, of al sê jy dat jy nie meer deel is nie, jy bluf jouself. My storie is ook ‘n gryskatstorie. My storie is ook oor ‘n sonkol wat weggeraak het. Almal is huidiglik besig om hierdie sonkol te soek, ek inkluis. Ons krap die plek erger om as wat gemmerkat en swartkat dit gedoen het. Ander katte krap dit nog meer om as onsself, maar ons is almal opsoek na daardie goue sonkol wat al so lank weg is. Wie gaan die son vir ons kry? Die son moet gekry word, anders gaan dinge baie skeef loop vir almal. Almal maak alarm. Almal hardloop rond en soek. Waar is die son? Waarom word hy nie gekry nie? Dit raak net moeiliker om hom te kry. Die verwoesting en hartseer net erger. Dit moet stop! Miskien moet die verwoesting gebeur sodat die son gevind kan word. O toggie! Ons bly positief, hoop, glo en vertrou.

Kan die aan bewind nie dink hoe Juffrou Mollie gedink het – hoe onnosel hulle is en wat hulle eintlik aan almal aandoen nie? Met verstarde o-e sit ek en kyk hoe almal spartel en spook om die son te kry! Ai tog, waarom kan almal nie saamwerk en die son kry nie? Waarom moet almal skewe draaie om mekaar hardloop en so die son mis?

Read Full Post »