English Readers: This is my own pantoum, in Afrikaans. On this link you can read about Pantoums and the rules and try your own too! I wrote mine about London.
Mnr Muller het my “gedaag” om ‘n Pantoen te skryf. Hy het reeds twee op sy blog geplaas en baie goed daarin geslaag om sy gedagtes neer te pen. Jy kan op sy inskrywing ook lees wat ‘n Pantoen is en die reëls vir die skrywe van ‘n Pantoen. Sy tweede pantoen veral is iets wat jy moet lees, kom uit ‘n wêreld van liefde en romanse! hehe…baie goed, mnr muller! Volg die link om syne te lees. Hy was nuuskierig om te weet wat my onderwerp gaan wees en daarmee natuurlik bietjie druk op my geplaas om een te griffel. Ek was verlede week Donderdag en vandag in London, so bietjie gaan ronddrentel, “shopping” gedoen en net bietjie die tyd geniet na die afgelope byna jaar wat ek toe was onder die druk van studies/skool ens. ens. en ek wou myself ook bietjie bederf voordat ek eerskomende Donderdag terug in die tuig is… die keer weer permanent. O ja, ons kook natuurlik uit hier in London die afgelope paar dae! Vandag is die temperatuur 30 grade C!
Ek het besluit my onderwerp gaan “London” wees – die stad. Ek het so ‘n klompie foto’s geneem tussen die twee dae, nie te erg aangegaan nie, net so hier en daar. Die eerste drie is sommer vanuit Starbucks geneem! Ek kort ook ‘n nuwe kamera! Dis my volgende bederf en beslis voor einde Julie wanneer ons somervakansie aanbreek. O ja, het ek genoem dat ons verlede week saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale “Pool”-span op die trein gereis het! Hulle was oppad na die Wêreldkampioenskappe in Blackpool. Dit was lekker om met hul te kon gesels en een van die jong latte in die span was vreeslik uit sy vel op die trein. Die knaap moet net volgende keer die musiek uit sy ore haal as hy op die trein praat, want hy het byna die hele trein verskree met sy uitbundigheid om in London te wees – musiek en al in sy ore! Ons het heerlik vir hom gelag. Eers gaan ek die foto’s plaas en dan kan jy na die foto’s kyk en so bietjie jou verbeelding laat “gaan” as jy my geskrywe lees. Jy kan later terugkom vir meer foto’s – wat ek in ‘n nuwe inskrywing sal plaas. Al die foto’s is in Oxfordstraat geneem.
Grys ou Stad
die son brand fel neer op hierdie dag
waar dit woel en krioel – van vroeg tot laat
leë siele loop onbeduidend met niksseggende gedagtes
kruiend staar hul tot êrens in die verlede rond
waar dit woel en krioel – van vroeg tot laat
oer-stemme eggo helder in my gedagtes
kruiend staar hul tot êrens in die verlede rond
en messel dit wat is met dit wat was
oer-stemme eggo helder in my gedagtes
leë siele loop onbeduidend met niksseggende gedagtes
en messel dit wat is met dit wat was
die son brand fel neer op hierdie dag
Nikita-29/6/09 (inderhaas: 14:30)
Ek moet dalk bietjie verduidelik: “kruiend” glo ek nie is ‘n Afrikaanse woord nie, ek’s nie seker nie. Ek weet van “kruie” – soos in drentel (behalwe natuurlik kruie wat jy in kos gebruik) en ek het besluit om “kruiend” hier te gebruik. ‘n Nuwe woord? Dan, hierdie gegriffel is oor die ou stad, daarom al die “ou” en “verlede”, die mense wat – hopenlik – die historiese “beleef” – of hul gedagtes wat terugflits wanneer hul die ou geboue/historiese plekke sien/beleef…dan die mense wat doelloos in die strate rondbeweeg…soos maar in enige ander plek. Hoop dit maak als sin! – sien my ander “weergawe”… ek was nie heeltemal gelukkig met die vloei van die eerste een nie. Ek het ook so bietjie raad van mnr muller ter harte geneem! Ek het die straatnaam en name van geboue in Oxfordstraat ingebring. Op die laaste twee foto’s kan jy Niketown sien.
onder die grys ou verlede
die son brand fel neer op hierdie dag
bleek figure drentel onbeduidend met verwaarloosde gedagtes
kruiend staar die stad tot êrens in die verle’
oxford woel en krioel – van niketown tot centre point
bleek figure drentel onbeduidend met verwaarloosde gedagtes
in my gedagtes weerklink oer-oue stemme van lank gele’
oxford woel en krioel – van niketown tot centre point
moeiteloos messel ek dit was is met dit wat was
in my gedagtes weerklink oer-oue stemme van lank gele’
kruiend staar die stad tot êrens in die verle’
moeiteloos messel ek dit wat is met dit wat was
die son brand fel neer op hierdie dag
–30/6/09 (12:30)
mnr muller: ek weet nie of ek tevrede is nie, dalk skaaf ek nog aan die ding. Soms voel ek nie tevrede nie en dink ek gaan verander en dan verander ek op die ou end niks. Ek sal hom “herkou” en sien hoe ek voel. Die “vloei” is nog nie vir my lekker nie.
—ek het al klaar ‘n reeltjie verander, maar voel nog nie gelukkig nie. Reël 5 was oorspronklik: “Weerklink oer-stemme helder en flits gryse gedagtes rond”
?
Hi James
This is an Afrikaans entry about a pantoum. I wrote mine about London… basically it tells you about the city and the people…more about the past/history – more abstract. Sorry, I’m not going to translate the poem, it’s already tricky to write such a poem! 🙂
Eh…Nikita, ek het nie ‘n clue watse ding dit is nie, maar ek b-e-l-o-w-e plegtig om dit more te gaan Google! 😳
hi boendoe! 🙂 Jy hoef maar net mnr muller s’n te lees, hy verduidelik ook die reëls. Dis ‘n tipe van ‘n gedig-vorm. Nogal pret om dit te skryf, maar tog ook bietjie tricky!
Hey, Nikita – well done!
Dis nogals lekker om hiermee te worstel, nè!
Jou pantoen vloei wel heel mooi – maar dis altyd interessant hoe, as jy besluit om ‘n versreël te verander, dit ‘n rimpeleffek het.
Ek sou, as ek jy was, ‘n bietjie meer met die titel doen en dalk verwysings na Londen probeer inbed in die gedig, eerder as om dit eksplisiet in die titel “weg te gee”.
‘n Mens kry pragtig die indruk van ‘n ou deel van ‘n stad, dalk ‘n markplein (kruiend roep noodwendig ook die gedagte aan “kruie” op), maar jy kan dit nog meer spesifiek maak; dalk ‘n spesifieke straatnaam of rooi bus of iets.
Ook sê hulle altyd “show, don’t tell”, so dalk kan jy i.p.v. “onbeduidend” en “niksseggend”, ens. eerder hulle liggaamshoudings beskryf?
Hehe – hoor hier, ek moet net waarsku, ek is geen kenner op die gebied van poësie nie, so neem als wat ek sê met ‘n knippie sout!
Nietemin, dis lekker om deur ‘n pantoen se woorde te sif en te kyk watter sonder verlies aan emosie weggelaat kan word, en watse “ryker” woorde dalk andere kan vervang.
Speel voort! Skep voort! Briljant.
mnr muller! Dankie vir jou kommentaar!, ek het Londen nou weggeneem, het dit nie gister daar gehad nie, toe vanoggend daar geplaas, maar nou weer weggeneem. Goeie raad wat jy gegee het, dankie daarvoor. Ek het weer gaan verander aan die een, byna heeltemal, my woordorde by reel 5 (oorspronklik) het my heeltemal te veel gepla, nie net die woordorde nie, maar ook hoe die lees en sin van die gedig vir my was. “die stad” in reel 3 verwys na die mense. Ek het die tweede een geplaas en nie die eerste een verwyder nie. Jy wil dalk kom loer en kommentaar gee. Ek voel meer tevrede. Die straatnaam en bus waarna jy verwys, sal ek inbring sou ek weer so een skryf. Sjoe, ek het nie gedink dat so ‘n digvorm mens so kan laat “puzzle-bou” nie. …mnr muller..ek het so bietjie van jou raad ter harte geneem en nog iets gaan verander… ek dink jy gaan meer daarvan hou. Op die foto’s kan jy geboue sien en ek het die gebou-name EN ‘n straatnaam nou ingevoeg…ook twee foto’s opgelaai van die een gebou waarna ek verwys. Genade, die gedigvorm laat mens kopkrap! 🙂
Baie goed gedoen Nikita! Dankie vir die foto’s daarmee saam! 😉
Ai!!! Nikita nou ken jy mos vir my met die Pantoen storie, ek sal forever and a day aanhou en bly verander en nooit klaar kry nie.
Ek is nuuskierig, is jou studies klaar? (As jy tyd het e pos my asb, ek wil graag weet of ek ‘n glasie champers op jou moet drink) 😆 Skool begin weer môre, geniet hoor!
hi Wipneus! Jong, hierdie pantoen het my besig gehou, ek’s nou vireers klaar met hom 😆 Ek sal anderdag weer een skryf, my brein is nou ge-“rack” …hahaha..
Ja, my studies is sowat ‘n maand terug klaar! woohoo! en jy kan maar die champagne oopmaak. – ongelukkig kry ek kopseer daarvan, so ek sal maar my rooiwyn diekant drink 🙂 Ek sal jou ‘n possie stuur.
Haha, great! 🙂
Maar die einde is het nog niet – wat van die klank, metrum en ritme?
Veral as ‘n mens iets ingrypend edit, verloor jy dikwels die aanvanklike metrum… wat ‘n verlies kan wees.
Dan moet jy eers weer jouself afvra hoe jy die gedig se tempo wil laat vloei? Wil jy die klankrykheid van mense oor cobble stones in jou gedig laat eggo of eerder die uitgerekte tamheid van ‘n warm dag?
Ondersteun jou woorde en ritme mekaar? Waar kan jy aanpas? Hoe kan jy met leestekens of reëlbreuke nodige pouses insit? Watter woorde kan jy met sinonieme vervang (bv. “stadig” met “langsamerhand” om meer van ‘n gevoel van “stadig” te kry)?
😉 Uiteraard het ek nie antwoorde nie; net nog puzzle-vrae!
My punt oor kreatiewe skryf-assessering is dit: eerder as wat jy die eindproduk (die pantoen) noodwendig assesseer, dink ek onderwysers moet leerders se refleksies bepunt. Dan toets jy of hulle die game gespeel het; die puzzle gebou het – soos jy gedoen het, en nog besig is om te doen. 🙂
mnr muller: Dankie vir jou kommentaar, jy sit my weer aan die dink, maar ook: jy maak my wiele pap! haha… hierdie gedigvorm is ‘n erger puzzle as wat ek gedink het dit is om te bou! LOL! oor jou vraag:
“Wil jy die klankrykheid van mense oor cobble stones in jou gedig laat eggo of eerder die uitgerekte tamheid van ‘n warm dag?” — die volgende: beide, maar met die klem op die vermenging van die mense en die stad se verlede/”oudheid”. Die eerste reel – wat weer herhaal word aan die einde – herinner jou aan die hitte van “nou”, alles “tussen-in” sê die res…of dis die veronderstelling 🙂 Ek is nou pootuit, gaan nou foto’s blog wat ek vanoggend in Hounslow geneem het, net hier naby. Sal later weer bietjie my gedagtes laat gaan oor hierdie pantoen-puzzle. 🙂
Mooi geskryf, Nikita!
Wou net opmerk, dis nogals ironies dat die Wereld “Pool” kampioenskappe in Blackpool gehou word. 🙂
hi Boer! Dankie! Ja, ek het nogal dieselfde gesê vir die ouens op die trein. Ek wonder juis hoe hulle gevaar het, ek het gesien daar’s ‘n website vir hulle. Ek sal bietjie gaan moet loer. Ons kook weer uit vandag, hoop dit gaan beter aan jou kant!
Ek wonder of daar nie een of ander reël is waarvolgens ‘n woord soos kruiend van die werkwoord kruie afgelei word nie? Net soos slapend of rokend. Miskien kan Mnr. Muller vir ons sê.
Ek het by sy blog gesien van die pantoen, maar besluit om dit vir eers te ignoreer. Hoe dit ookal werk, jy het ‘n baie mooi gedig geskryf, albei weergawes!
hi Kop, Laat ons sien wat mnr Muller vir ons sê! 🙂 Al wat ek oor die pantoen kan sê is dat dit ‘n lekker manier is om ‘n groep Gr6’e / Gr7’s lekker besig te hou met “puzzle” bou. Dankie vir jou kommentaar hier. Ek het ongelukkig nie nou tyd om weer aandag aan dit te gee nie, dis soos mnr Muller sê, dis totaal ‘n rimpel-effek as jy begin verander aan ‘n reël en daarvoor moet jy tyd hê. Ek’s nou te besig met my nuwe kamera wat ek vandag vir myself gekry het, sal bietjie beter foto’s van nou af kan blog! 🙂
Hehe, janee. Om ‘n gedig te fabriseer vat oneindig baie tyd.
‘n Mens moet voortdurend skeppend en dan krities en dan skeppend dink (amper soos met skaak!).
Ek het jou seker nou ‘n bietjie belas met te veel gedig-dinge – vir ‘n leerder sou jy net op een/twee elemente fokus en dit dan daar los.
Anders tap jy bloed uit die pantoen.
Wat die taalreël betref, mykopop, ek is seker daar is ene, en dit werk soos jy sê: slaap + -end = slapend; hardloop + -end = hardlopend. Not much more to it.
hi mnr muller…ek stem saam met wat jy sê betreffende die woordvorming, maar in die geval was dit “kruie”(ww) en dan het slegs die “nd” bygekom,(dit kom seker op dieselfde neer as slaap+end) dan stem ek beslis saamoor die skryf van ‘n gedig ook, maar soms kry ek ‘n “oomblik” wat ek hom skryf en tevrede voel van die begin af…soos die een van Bobby Fischer, daar het ek nie eers ‘n leesteken verander nie, maar dan kry ek hierdie slim idees waarmee jy na vore kom, dan’s dit verander en verander en verander en…. 🙂 jy tap bloed uit my uit, never mind die pantoen!lol!
Wel… ek sou sê dat kruie + end = kruiend. Die ekstra “e” word maar net geassimilieer.
By slaap + end = slapend word die lang “a” behou d.m.v. die oop lettergreep.
By stap + end = stappend word die kort “a” behou d.m.v. die verdubbeling van die medeklinker “p”.
By draf + end = drawwend is daar ‘n effense vervorming van klanke (gladder op die tong).
Al die bogenoemde, vermoed ek, is maar net variasies op die tema. Hehe, ek is seker daar is taalfundi wat ‘n beter uitleg sal kan gee; ek is meer geïnteresseerd in pantoene 🙂
mnr muller! jy doen nou wat ek gewoonlik met my man doen as dit kom by reëls..hehehe… of soos mens dalk kan sê “drop” die “e” en dan voeg jy “end” by lol